
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
A tot Z van breinbeserings
Deur Nico Strydom
ʼn Breinbesering kan verskeie gevolge inhou, waaronder breinskade of selfs die dood.
Dit kan ʼn ernstige impak op die slagoffer se daaglikse lewe en emosionele welstand hê. Dit kan van korte of permanente duur wees en dus iemand se lewe onherroeplik verander in terme van daaglikse funksionering, hul vermoë om te werk sowel as intellektuele, kognitiewe en emosionele beperkings.
Kopbeserings is een van die mees algemene oorsake van gestremdheid en dood by volwassenes. Beserings wissel van ʼn ligte stamp teen die kop, ʼn sny of diep wond, of meer ernstige beserings wat inwendige bloeding en skade aan die brein kan veroorsaak.
ʼn Kopbesering is ʼn breë term wat ʼn groot verskeidenheid beserings beskryf wat aan die kopvel, skedel, brein en onderliggende weefsel en bloedvate in die kop voorkom. Daar word ook daarna verwys as ʼn breinbesering, afhangend van die omvang daarvan.
In die kursus oor breinbeserings wat deur Solidariteit aangebied word, word daar dieper gedelf in hoe die brein lyk en funksioneer, en die verskeie belangrike funksies wat dit verrig. Daar word gekyk na die hoofoorsake van breinbeserings, die omvang en erns daarvan, die tipes breinbeserings en die simptome wat met die verskillende tipes breinbeserings gepaard kan gaan.
Hierdie kursus fokus ook op die behandeling wat vereis word met die moontlik verskillende simptome en gevolge. Rehabilitasie volg hierop en daar word dus in die kursus gekyk na watter tipe rehabilitasieprogramme nodig is vir die verskillende breinbeserings, die doel daarvan en die vereistes vir goeie en suksesvolle rehabilitasie. Die uitkomste van die rehabilitasie sal die pad vorentoe bepaal en ook help vasstel watter post-rehabilitasie benodig word.
Daar word ook gekyk na die impak van ondersteuningsnetwerk op ʼn persoon met ʼn breinbesering en hoe familie, vriende en ander mense die persoon in hierdie verband kan bystaan.
Die kursus is in die formaat van ʼn geskrewe aanbieding en interaktiewe grafika wat kursusgangers in hul eie tyd kan deurwerk. Die kursus word met vrae afgesluit om jou kennis van die inhoud te toets.
As ʼn werker in die mediese beroepsveld is dit nodig om jouself te vergewis van breinbeserings en die behandeling daarvan. Wees aan die voorpunt van jou loopbaanontwikkeling. Lees hier meer oor jou eenstop-beroepstuiste vir voortgesette leer. Indien jy nog nie ʼn lid van Solidariteit is nie, klik hier om binne ʼn minuut aan te sluit.
Klik hier indien jy hierdie kursus wil voltooi, of lees hier meer oor hoe jy vir dié kursus kan inskryf.