loading
Artikels
4 dae gelede
aan-my-liefste-moeder

Foto Krediet: Verskaf

Aan my liefste moeder

Gelukkige Moedersdag aan al die ma’s daarbuite!


Deur Kyla-Ann du Toit

Ek weet nie van jou nie, maar ek kan nie my ma sommer net in ʼn eenvoudige “boksie” plaas nie. My ma sal nou grap en sê dit is omdat sy nie in die boksie sal “pas” nie, maar dit is eintlik net omdat ek my ma op sóveel maniere kan beskryf.

As ek aan my ma dink, dink ek aan die soort mens wat ek graag eendag wil wees. Vriendelik. Braaf. Onbaatsugtig. Empaties. Eenvoudig. Liefdevol. Sielsmooi. Gegrond. Betroubaar. Opreg. Sy is eenvoudig ʼn mooi vrou van binne én buite – enig in haar soort!

Sy het al baie klippe uit ander se pad gerol, maar sekerlik dubbel die hoeveelheid uit haar eie. Die lewe is nie vir haar ʼn reguit en eenvoudige pad nie – daar is talle kinkels en draaie. Maar wanneer die lewe ʼn lied is, sing sy uit volle bors saam!

Sy het ons drie dogters geleer dat nederigheid jou ver in die lewe sal bring: “Hou jou voete op die grond en reik na die sterre.” Dít doen sy ook self. Sy hou nie daarvan as die “liggie” op haar skyn nie. Sy verkies om haar oorwinnings eerder saggies en teruggetrokke te vier. Maar wanneer een van haar naastes ʼn doelwit bereik, is dit tyd vir groot partytjie, want hoekom nie? Sy is altyd gereed om ander te vier.

My ma se hart is bitter klein! As ek ná ʼn heerlike kuier die pad moet vat, pik sy elke keer  ʼn traan. Haar kinders is haar alles – dit is vir haar die lekkerste wanneer haar hele gesin bymekaar is. Solank sy haar familie het, is sy gelukkig.

Sy gee sonder om ooit iets terug te verwag. Sy leer my dat ʼn saggeaardheid nie ʼn swakheid is nie en dat opofferings dikwels stil en steeds kragtig kan wees. Sy lag hard, maar sag genoeg om steeds ʼn dame te wees. Sy praat baie, maar luister graag eerder. Sy geniet ʼn glasie wyn, maar veral wanneer dit saam met haar beste vriendinne is. Soms is sy selfbewus oor haar lyf. (Watter vrou is nie?) Maar vir ons is sy pragtig – steeds die blonde bom soos toe sy jonger was. Vir mý is sy die mooiste mamma wat daar is.

Ek weet nie hoe sy dit regkry om steeds so ʼn vrolike vrou te wees terwyl die lewe so onvoorspelbaar moeilik is nie. Miskien weet sy self ook nie altyd nie … Sy is my voorbeeld van ware liefde: ʼn liefde wat nie voorwaardes ken nie; ʼn liefde wat net stilweg en getrou aanhou gee. My ma is iemand wat jou leer dat waarde nie in dinge of status lê nie, maar in karakter – in omgee vir ander, in jou vermoë om ander te dien en om net 100% jouself te wees.

Elke besluit wat ek neem, die manier waarop ek my waardes uitleef en hoe ek ander hanteer – dit is te dankie aan háár. Ek is wie ek is as gevolg van háár. Ek kan regtig nie die lewe sonder my ma indink nie. Sy is wie ek eendag graag wil wees.  

Dankie, Mamma, vir alles! Vir dinge wat ek by Mamma kon leer en vir die dinge wat ek nog gaan leer. Ek dank die Here vir die gróót voorreg om my ma op Moedersdag te kan vier.

Gee vandag vir jou ma ʼn ekstra stywe drukkie en as jou ma nie meer hier is nie, gee vir haar ʼn drukkie in jou gedagtes – dit is ʼn voorreg om ʼn ma te hê. Gelukkige Moedersdag!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel