loading
Blogs
6 dae gelede
dialoog-of-dooie-woorde

Foto Krediet: Solidariteit

Dialoog of dooie woorde?

Die ANC skep skyn van optrede, maar niks volg nie

Deur Robin-Lee Maré

Die eerste fase van die Nasionale Dialoog, wat sowat R700 miljoen beloop en die naweek by die Universiteit van Suid-Afrika in Pretoria afgesluit is, is deur meer as ʼn duisend afgevaardigdes bygewoon. Dié konferensie wat daarop gemik is om die land se dringendste probleme aan te spreek, sal volgens die beplanners oor die volgende ses tot nege maande voortduur.

Temas soos die ekonomie, werkskepping, misdaad, korrupsie, onderwys, gesondheid, geslagsgeweld en die moord op vroue, sowel as die herstel van die staat en die Grondwet, is bespreek.

Wat in die eerste fase van die Nasionale Dialoog duidelik geword het, is dat dit net by praat gebly het, terwyl werklike oplossings om Suid-Afrika se krisisse aan te spreek, steeds ontbreek – iets wat kenmerkend van die ANC se benadering is. Die groter probleem lê egter by die ANC self: die party het lankal sy betroubaarheid as gespreksgenoot verloor. Die Nasionale Dialoog tree dus nie na vore as ʼn daadwerklike poging om probleme op te los nie, maar as ʼn skynoplossing – ʼn poging om die indruk te skep dat daar gewerk word, terwyl die werklike probleme onaangeraak en onopgelos bly.

Die Solidariteit Beweging was uit vrye keuse nie een van die deelnemers nie. Deels as gevolg van die ANC se besoedelde reputasie, maar ook weens die geloofwaardigheid van die Nasionale Dialoog self. Onder diegene wat wel deelgeneem het, was hoëprofiel-figure soos president Cyril Ramaphosa, die voormalige parlementslid, Lindiwe Mazibuko, en vakbondleier, Bheki Ntshalintshali. Ook sakeleiers, gemeenskapsaktiviste, akademici en kultuur- en sportpersoonlikhede is betrek in ʼn poging om ʼn wye verskeidenheid perspektiewe te weerspieël.

Verskeie politieke partye en organisasies het egter gekies om nie aan die Nasionale Dialoog deel te neem nie, insluitend die Demokratiese Alliansie (DA), die Vryheidsfront Plus (VF Plus) en die Thabo Mbeki-stigting. Die DA het dit as ʼn ‘pratery sonder aksie’ bestempel en beskou as ʼn poging van die ANC om politieke punte te wen sonder werklike hervorming. Die VF Plus het hul afwesigheid verduidelik met die mening dat die proses gemanipuleer is, terwyl die Thabo Mbeki-stigting en ander belangrike nalatenskapstigtings bekommerd was oor die gebrek aan deursigtigheid en die gejaagde tydlyn van die beraad.

President Cyril Ramaphosa het beweer dat die Nasionale Dialoog ʼn nuwe visie vir die land skep en dat dit by Suid-Afrikaanse burgers lê om hierdie visie te verwesenlik. Dit is egter ʼn skokkende aflegging van verantwoordelikheid: terwyl burgers stem en belasting betaal, behoort die werklike verantwoordelikheid vir verbetering by die regering te lê, nie by die gewone mense nie.

Dit is nie verkeerd om te praat en te luister nie; dialoog kan immers waardevol wees. Maar Suid-Afrika sit met onmiddellike krisisse soos werkloosheid, korrupsie en ʼn gebrek aan dienslewering wat onmiddellike en daadwerklike optrede verg. Hierdie onderwerpe word al jare lank deur gewone Suid-Afrikaners bespreek – die gesprek bestaan dus reeds. Die enkele aksie wat daar is, kom vanuit ʼn privaat inisiatief, maar aan die regering se kant, ontbreek dit.

Terwyl die ANC dus weer in praatjies verval, wys ander verantwoordelike organisasies dat werklike verandering wel moontlik is. Solidariteit is een van die groepe wat stilweg, maar doelgerig, werk om ʼn tasbare toekoms vir Suid-Afrikaanse burgers te bou – sonder skynoplossings en sonder die gebruik van belastingbetalers se geld.

Deur volgehoue betrokkenheid en daadwerklike aksie bewys sulke organisasies dat dit nie net by woorde hoef te bly nie. Hulle wys dat positiewe verandering bereik kan word sonder die afhanklikheid van die ANC se leë beloftes, en dat aksie steeds harder as woorde praat.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel