Fotokrediet: Okay Deer
Gekopieër
Aanlyn verbind, maar alleen?
Deur Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod
Solidariteit se Skoliere-aanbod gesels verder met Johan Laten, stigter van Reboot Your Resilience, oor skoliere en tieners se selfoongebruik, die behoefte aan ware verbintenis en hoe ouers en onderwysers ʼn groter rol kan speel om jong mense raak te sien en te hoor.
ʼn Tiener kan deur die dag honderde boodskappe ontvang, ure op sosiale media deurbring en voortdurend met ander verbind wees, en tog saans dink: “Niemand verstaan my regtig nie.”
Dit is die teenstrydigheid van ons digitale wêreld: Ons is meer verbind as ooit tevore, maar dit beteken nie noodwendig dat ons minder alleen voel nie. Vir tieners is dit daarom belangrik om nie net te vra wat hulle aanlyn doen nie, maar ook hoe dit werklik met hulle gaan.
Sien die tiener agter die skerm
Om ʼn tiener werklik te sien, beteken om meer as net hul gedrag raak te sien. Dit beteken om belangstelling te toon, te luister en hulle te laat weet: “Jy maak saak. Ek sien jou raak.” Nabyheid groei dikwels in eenvoudige oomblikke – ʼn gesprek in die motor, ʼn stappie om die blok, ʼn saamkuier of selfs ʼn gesprek oor die musiek, speletjies of mense wat vir hulle belangrik is.
Sit jou foon weg. Gee jou aandag. Luister.
Luister voordat jy dinge probeer regmaak
Wanneer ʼn tiener sê: “Ek voel almal haat my,” hoef jou eerste reaksie nie ʼn oplossing te wees nie. Erken eers hoe hulle voel.
Jy hoef nie saam te stem nie; wys net dat jy luister en probeer verstaan. Wanneer ʼn jong mens voel dat hulle ernstig opgeneem word, is hulle dikwels meer bereid om verder oop te maak.
Onderwysers: Wees die volwassene wat dinge raaksien
Onderwysers kan nie elke leerder se probleme oplos nie, maar hulle kan ʼn veilige volwasse persoon wees by wie ʼn leerder weet: Hier word ek raakgesien. Groet ʼn leerder by die naam. Toon belangstelling. Let op wanneer iemand se gedrag of gemoedstoestand verander. ʼn Eenvoudige “Ek het opgemerk jy is stiller as gewoonlik, is alles reg?” kan die begin van ʼn belangrike gesprek wees.
Kom in hulle wêreld in
Moenie net vra hoeveel tyd jou tiener aanlyn deurbring nie. Vra eerder wat hulle daar doen. Na watter musiek luister hulle? Watter speletjies speel hulle? Wie volg hulle? Waaroor is hulle nuuskierig?
Jy hoef nie van alles te hou nie. Jy moet net bereid wees om dit te verstaan.
Wanneer moet jy bekommerd wees?
Alleenheid en privaatheid is ʼn normale deel van grootword. Let egter op as ʼn tiener:
- • toenemend onttrek;
- • belangstelling verloor in dinge wat hulle geniet;
- • gereeld angstig of hartseer voorkom;
- • vriende vermy; of
- • ʼn duidelike verandering in gedrag of gemoedstoestand toon.
Negatiewe aanlyn ervarings kan hierdie gevoelens versterk. As veranderinge voortduur, moet jy dit nie bloot as ʼn fase afmaak nie. Hou die gesprek aan die gang en soek ondersteuning indien nodig.
Moenie wag vir ʼn krisis nie
Ons kan nie ʼn tiener se hele digitale wêreld beheer nie. Ons kan wel seker maak dat daar iemand in die regte wêreld is by wie hulle nie hoef voor te gee nie. Iemand wat luister voordat hulle oordeel. Iemand wat nie elke probleem probeer oplos nie. Iemand wat kan sê: “Ek verstaan dalk nie alles nie, maar ek wíl verstaan.”
Ware verbintenis begin nie wanneer ons die selfoon wegneem nie. Dit begin wanneer ons bereid is om nader te kom.
Ons hoef nie altyd die regte woorde, die perfekte raad of die oplossing te hê nie. Soms is die belangrikste ding wat ʼn jong mens nodig het, om te weet dat iemand genoeg omgee om raak te sien wanneer iets verander, om te vra en om te bly luister.
Want agter elke skerm is ʼn jong mens wat nie net verbind wil wees nie, maar ook verstaan, aanvaar en raakgesien wil word.
Indien jy nog nie my vorige twee blogs oor hierdie tema gelees het nie, klik hier om meer te lees: