loading
avatar
Artikels
12 uur gelede
aanpasbaarheid-die-een-vaardigheid-wat-elke-jong-werkende-nou-moet-he

Foto Krediet: OkayDeer

Aanpasbaarheid: Die een vaardigheid wat elke jong werkende nou moet hê

Deur Liza Joubert

Jy hoor dit orals: “Jy moet aanpasbaar wees.” Maar wat beteken dit regtig? Veral vir jou as student of jong werkende?

Aanpasbaarheid is nie net om, soos dit in Engels gesê word, te “go with the flow” nie. Dit is die vermoë om vinnig te leer, sin te maak van verandering en steeds waarde te kan lewer, selfs wanneer dinge onseker of nuut is.

In ʼn wêreld waar tegnologie, werksrolle en industrieë konstant verander, is aanpasbaarheid nie meer ʼn “nice-to-have” nie, maar is dit wat bepaal of jy relevant bly.

Die Future of Jobsverslag deur die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) wys dat aanpasbaarheid en die vermoë om voortdurend nuwe vaardighede aan te leer een van die belangrikste drywers van langtermyn-indiensneembaarheid in ʼn vinnig veranderende arbeidsmark is.

Wat beteken aanpasbaarheid prakties?

Aanpasbaarheid lyk anders as wat meeste mense dink. Dit is nie ʼn persoonlikheidseienskap waarmee jy gebore word nie, maar meer ʼn vaardigheid wat jy doelbewus bou.

Dit wys opsigself wanneer jy:

  • nuwe vaardighede vinnig aanleer sonder om te wag vir formele opleiding;
  • verandering aanvaar sonder om vas te klou aan hoe dinge “altyd was”;
  • probleme oplos wanneer daar nie ʼn duidelike plan is nie;
  • terugvoer gebruik om te verbeter, eerder as om dit persoonlik op te neem; en
  • buig, maar nie breek nie – jy hou aan beweeg, selfs wanneer dinge moeilik raak.

Met ander woorde aanpasbaarheid gaan oor hoe jy reageer wanneer dinge nie volgens plan verloop nie.

Hoekom dit nóú so belangrik is

Die werkplek waarin jy gaan instap, gaan waarskynlik heeltemal anders lyk oor vyf jaar. Meestal van die poste verander, en nuwe rolle ontstaan wat vandag nog nie eers bestaan nie.

Dit beteken:

  • jou graad alleen gaan jou nie dra nie;
  • jy gaan oor en oor moet leer; en
  • jy gaan uit jou gemaksone moet beweeg.

Die mense wat floreer, is nie noodwendig die slimste nie, maar dié wat die vinnigste kan aanpas.

Hoe bou jy aanpasbaarheid as student?

Jy hoef nie te wag vir ʼn krisis om hierdie vaardigheid te ontwikkel nie. Jy kan dit reeds nou begin oefen:

1. Sit jouself doelbewus in nuwe situasies
Raak betrokke by projekte, studente-organisasies of kursusse buite jou hoofvak. Onbekendheid bou groei.

2. Leer om vinnig te leer
Moenie wag vir iemand om jou alles te leer nie. Gebruik kort kursusse, aanlyn hulpbronne en praktiese ervaring om jouself op te skerp. Solidariteit bied ʼn verskeidenheid van 150 kursusse waarvan jy kan kies wat jou met ekstra ervaring kan help.

3. Raak gemaklik met ongemak
Groei voel dikwels ongemaklik. As iets jou uitdaag, is dit waarskynlik presies waar jy moet wees.

4. Soek terugvoer – en gebruik dit
Aanpasbare mense verbeter konstant. Hulle vra: “Hoe kan ek beter doen?” en doen dan iets daarmee.

5. Bou ʼn groei-ingesteldheid
Glo dat jy kan leer en ontwikkel. Jy is nie “vas” in jou vermoëns nie.

Die groter prentjie

Aanpasbaarheid gaan nie net oor werk nie; dit gaan oor hoe jy jou toekoms bou.

Dit is die verskil tussen iemand wat vasval wanneer dinge verander en iemand wat nuwe geleenthede raaksien en aangryp.

Wil jy seker maak jy bly relevant in ʼn vinnig veranderende wêreld? Begin nou om jou vaardighede doelbewus te bou. Raak betrokke by jou beroepsnetwerke, voltooi ekstra kursusse en stel jouself bloot aan nuwe geleenthede wat jou uitdaag. Jou toekoms behoort aan dié wat kan aanpas, maak seker jy is een van hulle. Begin vandag deur jou gratis profiel op Solidariteit-aanlyn te registreer.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel