Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Die ongemaklike waarheid oor jou ‘droomwerk’
Deur Liza Joubert
As student droom jy waarskynlik reeds oor jou ideale werk: ʼn goeie salaris, ʼn lekker span kollegas, ʼn betekenisvolle werk en ʼn gevoel van sukses. Maar hier is die ongemaklike waarheid wat min mense vir jou sê: Daar is nie iets soos ʼn perfekte “droomwerk” nie.
Elke werk – ja, selfs dié waarvan jy droom – het ʼn werklikheid wat mense nie op sosiale media wys nie.
Navorsing toon dat werkbevrediging nie net van die soort werk wat jy doen afhang nie, maar grootliks beïnvloed word deur jou ingesteldheid, die betekenis wat jy daaraan heg en jou betrokkenheid by jou werk.
Die kant wat jy nie sien nie
Agter elke “perfekte” werk is daar:
- • sperdatums wat druk;
- • take wat jy nie geniet nie;
- • moeilike kollegas of bestuurders;
- • herhalende of vervelige werk; en
- • dae waar jy net nie gemotiveerd voel nie.
Selfs mense wat hul werk liefhet, ervaar dit. Die verskil is egter dat hulle verstaan dat werk nie elke dag opwindend hoef te wees om betekenisvol te wees nie.
Jou ingesteldheid maak die verskil
Baie studente glo: “Eendag, as ek net die regte werk kry, sal ek gelukkig wees.”
Maar die realiteit is anders: jy neem jouself saam na elke werk toe. Dit beteken jou ingesteldheid bepaal grootliks jou ervaring.
As jy vir motivering wag, gaan jy egter lank wag. Maar as jy doelbewus kies om:
- • verantwoordelikheid te neem;
- • te groei, selfs in moeilike take; en
- • betekenis te soek in wat jy doen –
… begin die werk anders lyk.
Werk as ʼn roeping, nie net ʼn “9 to 5” nie
Vanuit ʼn geloofsperspektief gaan werk oor meer as net ʼn salaris. Dit gaan oor roeping. Roeping beteken nie noodwendig dat jy elke dag passievol sal voel nie. Dit beteken jy sien jou werk as ʼn plek waar jy:
- • jou talente gebruik;
- • ander mense dien;
- • karakter bou; en
- • getrou is in wat aan jou toevertrou is.
Selfs klein, alledaagse take kry dan nuwe betekenis.
Hoe maak jy werk ‘joune’?
Jy hoef nie te wag vir ʼn perfekte werk om vervulling te vind nie. Jy kan dit bou waar jy is.
- • Stel doelwitte: weet waarna jy werk, selfs al is dit klein mylpale.
- • Daag jouself uit: leer nuwe vaardighede en neem inisiatief.
- • Bou dissipline: doen jou werk goed, selfs wanneer jy nie lus is nie.
- • Soek groei: vra vrae, leer by ander en wees oop vir ontwikkeling.
Dit is juis hierdie eienskappe wat jou help om uit te staan – nie net jou kwalifikasie nie.
Die realiteit van die werkplek
Die werkplek gaan jou nie altyd motiveer nie. Jy gaan soms onseker voel, foute maak en moet aanpas. Maar dit is nie ʼn teken dat jy op die verkeerde plek is nie – dit vorm deel van groei. Studente wat dit vroeg verstaan, is diegene wat vinniger aanpas en sterker aan die ander kant uitkom.
Jou “droomwerk” gaan jou nie red of volmaak laat voel nie. Maar jou ingesteldheid, jou roeping en jou bereidwilligheid om te groei kan enige werk betekenisvol maak.
Wil jy voorbereid wees vir die werklikheid van die werkplek? Begin nou om die regte ingesteldheid en vaardighede te bou. Raak betrokke by netwerke, leer uit praktiese geleenthede en ontwikkel jouself doelbewus.
Registreer vandag jou gratis profiel by Solidariteit. Jou toekoms gaan nie net bepaal word deur watter werk jy kry nie, maar deur wie jy kies om te wees in daardie werk.