loading
avatar
Blogs
9 uur gelede
goedheid-by-die-werk-klein-dade-groot-impak

Foto Krediet: Solidariteit

Goedheid by die werk: klein dade, groot impak

Deur Mandy-Michelle Thackwray

Nou die dag sit ek en my span in ʼn vergadering in die nuuskantoor toe my oog ʼn pragtige tulpplantjie vang. Nuuskierig vra ek daaroor uit, en ʼn kollega vertel met trots dat dit van haar “spook” af is.

Elke persoon in hul afdeling het ʼn anonieme “spook” – iemand wat hulle van tyd tot tyd met klein dade van omgee verras. Die doel? Om ʼn vriendelike, gesonde werkplekkultuur te bou waar kollegas na mekaar omsien.

Die Engelse woord “kindness” beskryf hierdie konsep vir my besonders goed. Tog kry dit nog meer betekenis wanneer jy dit deur ʼn Bybelse lens sien, soos in Psalm 23:6: “Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal bly woon in die huis van die Here tot in lengte van dae.”

Volgens Dana Rosenburg, direkteur van die KIND Movement, is goedheid nie dieselfde as vriendelikheid nie. Vriendelikheid is om gaaf te wees; goedheid vra moed.

Dit beteken jy spreek dinge aan wanneer dit nodig is. Jy hou mense verantwoordbaar, maar met waardigheid. Dit beteken jy kan verskil sonder om af te breek, en grense stel sonder om afstandig te word. Ware goedheid is nie altyd gemaklik nie, maar dit bou gesonde, volhoubare verhoudings.

Goedheid in die werkplek maak ook ekonomies sin. Navorsing wys dat werknemers tot 44% meer toegewyd is in organisasies waar hierdie waarde werklik uitgeleef word, en dat hulle tot 26% meer energie ervaar. In ʼn tyd waar uitbranding ʼn werklikheid is, kan klein dade van goedheid ʼn kragtige buffer teen stres en emosionele uitputting wees.

Dit bou vertroue, en dit is aansteeklik – ek wil self nou ʼn “spook” wees.

ʼn Eenvoudige model om goedheid prakties uit te leef:

  • E – Erken: erken ander se pogings en idees
  • O – Omgee: toon opregte omgee vir ander se welstand
  • T – Tyd: maak tyd om werklik te luister
  • O – Ondersteun: bied hulp aan waar moontlik

Goedheid maak sin vir jou onderneming, en dit begin by leierskap. Kies vandag een doelbewuste aksie – iets klein, maar eg.

Want soms begin ʼn gesonde werkplekkultuur nie by strategie nie, maar by ʼn eenvoudige: “Hoe gaan dit regtig met jou?”


Mandy Thackwray is die bestuurder van Solidariteit se Werkfasiliteringsafdeling. Sy het meer as 20 jaar ervaring as kommunikasiespesialis en is die laaste vier jaar aan die stuur van Solidariteit se Werkfasiliteringsaanbod, wat ten doel het om werkgewers en werknemers met mekaar te verbind.

Sy is passievol daaroor om ʼn positiewe verskil in mense se lewens te maak, en glo dat daar vir elkeen ʼn werksgeleentheid is; jy moet net weet hoe om jouself te ‘verkoop’ vir die regte pos. Sy is ook die samesteller en outeur van die “Jou alles in een CV-gids” en ʼn “Onderhoude-gids” op Solidariteit wat werksoekers bemagtig.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel