loading
avatar
Artikels
11 uur gelede
die-eerste-vyf-jaar-van-jou-loopbaan-n-tyd-van-buig-of-bars

Foto Krediet: OkayDeer

Die eerste vyf jaar van jou loopbaan: ʼn Tyd van buig of bars

Deur Liza Joubert

Die eerste vyf jaar van jou loopbaan is nie net ʼn aanpassingsfase nie, maar die fondament waarop jou hele professionele toekoms gebou word. Volgens kenners van The Principle Group, is hierdie vroeë jare van kardinale belang omdat dit die tyd is waarin kennis, vaardighede en bevoegdhede ontwikkel word wat toekomstige geleenthede bepaal. Hierdie kenners wys uit dat persone wat nie in hierdie fase ʼn sterk grondslag bou nie, later sukkel om mededingend in die arbeidsmark te wees.

Die kenners beklemtoon ook verder dat die tipe werk en omgewing waarin jy jou eerste jare spandeer, ʼn groot verskil maak. Om in ʼn swak ontwikkelde werksomgewing te wees of een wat jou nie uitdaag nie, kan beteken dat jy nie die nodige vaardighede en ervaring opbou nie. Volgens hierdie kenners kan ʼn gebrek aan uitdagings en werkslading daartoe lei dat jy agter raak teenoor ander kandidate wat meer doelgerig hul vaardighede ontwikkel het.

Daar word ook daarop gewys dat jou professionele rigting teen ongeveer vyf jaar reeds begin duidelik word. Volgens kenners behoort individue teen hierdie tyd ʼn redelike goeie idee te hê van watter veld hulle permanent wil volg, aangesien vroeë werkservaring die grondslag lê vir toekomstige werksetiek, vaardighede en loopbaanrigting. Later in jou loopbaan is dit dikwels moeiliker om drastiese veranderinge aan te bring.

Hierdie idee van vroeë ontwikkeling word ondersteun deur ʼn artikel uitgegee deur die Universiteit van Florida se Career Connections Centre, wat beklemtoon dat loopbaanontwikkeling so vroeg as moontlik moet begin. Vroeë voorbereiding het ʼn direkte invloed op prestasie. Hoe beter jy voorberei, hoe groter is jou kanse op sukses.

Wat jy reg kan doen

Eerstens is dit belangrik om jou eerste werk strategies te kies. Dit gaan nie net oor salaris nie, maar oor geleenthede om te leer en te groei. ʼn Gebrek aan uitdagings kan jou vermoë beperk om die nodige vaardighede vir toekomstige rolle te ontwikkel.

Tweedens moet jy doelbewus fokus op vaardigheidsontwikkeling. Volgens die Universiteit van Florida se Career Connections Centre, kry jong mense die geleentheid om waardevolle ervaring op te doen deur internskappe, deeltydse werk en ander praktiese blootstelling. Hierdie ervarings help nie net om jou CV te bou nie, maar help ook om vaardighede te ontwikkel waarna werkgewers aktief soek.

Derdens is netwerkbou noodsaaklik. Volgens die Career Connections Centre word ʼn groot persentasie werksgeleenthede deur netwerke gevind. Deur vroeg reeds professionele verhoudings te bou, skep jy vir jouself meer geleenthede in die toekoms.

Verder is dit belangrik om duidelike doelwitte te stel. Volgens die artikel gebeur ʼn suksesvolle loopbaan nie toevallig nie – dit verg beplanning en doelgerigte optrede vanaf ʼn vroeë stadium.

Wat jy verkeerd kan doen

Aan die ander kant kan swak besluite in hierdie fase jou groei ernstig belemmer. Dit kan nadelig wees om in poste te bly wat nie ontwikkeling bevorder nie, aangesien dit jou vermoë om met ander kandidate te kompeteer, verswak.

Volgens loopbaankenners van The Principle Group waarsku hulle ook dat dit riskant is om nie jou loopbaanrigting betyds te bepaal nie. Sonder ʼn duidelike rigting kan jy maklik tyd verloor en sukkel om later momentum op te bou.

Sielkundige Pojauta Vilkauskaitė wys uit dat hierdie fase ook belangrik is vir selfontdekking. Sy verduidelik dat jong volwassenes in hierdie tyd hul identiteit ontwikkel en belangrike besluite neem oor wie hulle is en watter rigting hulle wil navolg. Sy beklemtoon dat dit normaal is om onseker te wees, maar dat dit belangrik is om aktief te verken, keuses te maak en selfs foute te maak om uiteindelik die regte pad te vind.

Bou doelbewus aan jou toekoms

Jou eerste vyf jaar is nie ʼn tyd om net “uit die pad te kry nie”, maar eerder ʼn tyd om doelbewus te bou. Volgens die Universiteit van Florida kan vroeë stappe soos netwerkbou, vaardigheidsontwikkeling en doelwitstelling ʼn groot verskil maak in jou langtermynsukses.

Soos met enige langtermynbelegging, geld dit om vroeg te begin. Deur nou klein, doelgerigte stappe te neem, lê jy die grondslag vir ʼn suksesvolle en vervullende loopbaan neer.

Wil jy seker maak jy bou jou loopbaan reg van die begin af? Solidariteit bied meer as 150 praktiese kursusse en hulpmiddels om jou te help om jou vaardighede te ontwikkel, jou loopbaan te beplan en jou volle potensiaal te bereik. Registreer vandag jou profiel by Solidariteit. Begin nou om jou eie leerplan vir jou toekoms te bou, want jou eerste vyf jaar kan alles bepaal.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel