loading
Artikels
1 jaar gelede
aanvaarding-van-bela-wet-n-aanval-op-afrikaans

Foto Krediet: OkayDeer

Aanvaarding van Bela-wet ʼn aanval op Afrikaans

Deur Nico Strydom

Solidariteit en ander instellings van die Solidariteit Beweging is gereed om die Bela-wetsontwerp in die howe te betwis en sal nie huiwer om die kaping van skole tot in die hoogste hof te beveg nie.

Die omstrede wysigingswetsontwerp is amptelik deur die Nasionale Vergadering (NV) aanvaar. Dit is nou na die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) vir oorweging verwys en indien dit deur die NRP aanvaar word, sal dit na pres. Cyril Ramaphosa verwys word vir bekragtiging. Die president kan dit egter na die NV of NRP terugverwys indien hy voorbehoude oor die grondwetlikheid daarvan het.

As dit goedgekeur is, sal die Bela-wysigingswet skoolbeheerliggame van hul magte stroop om oor die taal- en toelatingsbeleide van openbare skole te besluit. Dit sal ook bykomende regulatoriese magte aan die minister verleen.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het dit onlangs op ʼn mediakonferensie duidelik gestel dat skoolbeheerliggame nie oor die mag moet beskik om oor taal en toelating te besluit nie. Sy het gesê die regering is gereed om hofaksies teen die Bela-wetsontwerp te opponeer.

Dit is dus duidelik dat Bela nou oor politiek gaan, en nie oor onderwys nie, met die ANC wat met alle mag probeer om politieke munt daaruit te slaan voor volgende jaar se algemene verkiesing.

Ons durf nie die wyse duld waarop die regering sy mag misbruik om Afrikaanse skole te probeer kaap nie. Solidariteit en ander instellings van die Solidariteit Beweging het om dié rede na die parlement opgeruk om hul sterk teenkanting teen die implementering van die wysigingswet uit te spreek.

Ondanks die ontevredenheid van talle organisasies en die insette van ʼn groot meerderheid deelnemers aan die openbaredeelname-proses, het die NV tog die wetswysigings aanvaar.

Volgens Solidariteit hou die Bela-wysigingswet ʼn ernstige bedreiging vir Afrikaans en moedertaalonderrig in. “Ons beskou die goedkeuring van hierdie wet as ʼn aanval op Afrikaans. Dit is duidelik dat die regering minderheidsgroepe negatief gesind is en nie daarin belangstel om hierdie groepe te beskerm nie,” sê Johnell van Vollenhoven, beleidsontleder van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI).

Solidariteit sal voortgaan om druk uit te oefen waar hy kan. “As die regering gaan toelaat dat sy politieke ideologie ook in die NRP seëvier, en die wet daarna deur die president bekragtig word, is Solidariteit reeds reg vir aksie. Ons sal nie huiwer om die kaping van ons skole tot in die hoogste hof te beveg nie,” sê Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk.

Volgens AfriForum is dit duideliker as ooit dat die ANC-regering hierdie wetsontwerp deur alle prosesse probeer stoomroller. AfriForum gaan daarom voort met sy voorbereiding vir litigasie daarteen.

“Ons besef die ANC wil dit deurvoer, al kos dit ook wat en ongelukkig sal dit ten koste van die jeug in die land en veral die Afrikaanse jeug wees,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake.

Die ANC-regering moet hom egter staal, want uiteenlopende gemeenskappe staan nou vir die eerste keer werklik saam en sal nie toelaat dat die gewraakte Bela-wetgewing in ʼn Bela-ramp ontaard nie.

“Indien hierdie wetsontwerp uiteindelik deurgevoer word, sal dit alle kinders – ongeag hul ouers se politieke affiliasie of voorkeur – se toekoms ernstig benadeel. Dit sal ons met ʼn ramp in die onderwys laat wat onuitwisbare skade gaan aanrig,” verduidelik Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering by die Kaapse Forum. Hy benadruk dat dié organisasie intussen met sy regspan gaan konsulteer oor die volgende stap om toe te sien dat die wysigingswetsontwerp in sy spore gestuit word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel