
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit doen beroep op Ramaphosa om stappe aan te kondig om verhouding met VSA te herstel
Solidariteit het ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse regering – en spesifiek president Ramaphosa – gedoen om alles moontlik te doen om diplomatieke verhoudinge met die VSA te herstel. Volgens Solidariteit is beleidsverandering nie net nodig om die VSA tevrede te stel nie, maar om die land op ʼn groeipad te kry. Lees meer hier.
“Gewone werkende mense wil ekonomiese groei, werksekuriteit en werkskepping sien. Ons lede soek werk en stel nie belang in die ideologiese spel van die ANC en die regering nie. Ons doen ʼn beroep op president Ramaphosa om as ʼn staatsman op te tree en die land bo ANC-ideologie te plaas,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
Volgens Solidariteit moet die regering die nodige beleidsveranderinge implementeer om die land meer beleggingsvriendelik te maak en in die proses die diplomatieke verhouding met Amerika herstel.
Die volgende brandpunte was van kardinale belang gedurende die regering se besoek aan die VSA en die ontmoeting met president Trump, maar van die punte gaan verder onder bespreking wees as Pres. Ramaphosa terugkeer na Suid-Afrika:
- 1. Om ʼn nuwe handelsooreenkoms aan die VSA te bied met ʼn gunstige tariefbedeling.
- 2. Om aan te kondig dat die regering met die uitfasering van rassewette gaan begin. Dit sluit in om internasionale maatskappye van hierdie rassewette vry te stel. Rassewette beperk ekonomiese groei en werkskepping.
- 3. Om eiendomsreg te verseker en te beskerm.
- 4. Om aktief planne vir die bekamping van misdaad in die algemeen bekend te stel, en om sekere misdade – soos plaasaanvalle – as ʼn prioriteitsmisdaad te verklaar en ʼn spesialiseenheid te ontwikkel om dit te ondersoek.
- 5. Om hulle te verbind tot ʼn beleid van ware diplomatieke onverbondenheid, wat sal behels dat Suid-Afrika se buitelandse beleid herbedink moet word en anti-Westerse optrede gestaak word.
- 6. Om hulle te verbind tot die beskerming en bevordering van die regte van minderhede in Suid-Afrika.
“Ons is oortuig dat hierdie punte tot ʼn herstel van die verhoudinge tussen die Suid-Afrikaanse regering en die VSA lei. Dit kan werksgeleenthede in Suid-Afrika beskerm en miljarde rande se nuwe beleggings stimuleer, wat tot groei en werkskepping sal lei. Geen ekonomiese skikking sonder ʼn politieke skikking sal egter nou met die Trump-administrasie moontlik wees nie,” sê Hermann.
Die Solidariteit Beweging het al hierdie punte en bykomende inligting met deelnemers aan die RNE gedeel en is in deurlopende gesprek met die Trump-administrasie hieroor.