loading
Artikels
3 dae gelede
as-kinders-se-kryte-en-drome-gevat-word

Foto Krediet: Gallo Images | Solidariteit

As kinders se kryte en drome gevat word …

Mpumi Madisa

Uitvoerende hoof: Bidvest

Beste Mpumi, 

Jy’s ʼn ma van twee. In ʼn artikel op Business Leadership South Africa skryf jy oor jou verbintenis om ʼn warm en gelukkige tuiste vir jou gesin te skep. Jy skryf dat jy elke dag die beste ma en vrou wil wees. Jou gesin kom eerste en jy’s baie bekommerd oor hoe om jou kinders te lei om hul beste te bereik. 

Ek wonder hoe jy sou voel as iemand jou kind se inkleurkryte vat – as iemand hul geleenthede steel. Ek lei af jy sou woedend wees. Jy’s eerste ʼn ma. Jy wil ʼn gelukkige huis vir jou gesin skep. Jy wil die beste vir jou kinders gee. 

Ek wonder wat jy sou doen as een van jou werknemers dit sou doen. Dit sou indruis teen wie jy is. Ons kan dit selfs verder voer: hierdie kinders word van kryte en drome ontneem bloot omdat hulle arm is én ʼn spesifieke velkleur het – twee dinge wat heeltemal buite hul beheer is. As ek kyk na dit wat jy vir jouself as ʼn ma gun, behoort jy van so ʼn werknemer ontslae te raak. 

Mpumi, daardie werknemer is jy. Dis jou maatskappy wat so ʼn beleid het. Dis jy wat onderwysgeleenthede vir lae-inkomstehuishoudings wegvat op grond van hul velkleur. 

Bidvest het ʼn beursprogram vir skoolgaande kinders van graad 4 tot graad 12. Voltydse werknemers kan vir die program aansoek doen indien hulle minder as R15 300 per maand vóór aftrekkings, verdien. Die beurs dek skoolgeld, Waltons-skryfbehoeftes, skoolklere en hulp met ekstra klasse. 

Daar is egter een stukkie detail: selfs al verdien jy onder dié drempel, as jou vel wit is, mag jou kinders nie hierdie ondersteuning ontvang nie. Die wit mamma wat ook ʼn gelukkige huis wil skep, kan nie skryfbehoeftes kry nie. Die wit mamma wat ook lief is vir haar kinders en die beste ma vir haar kinders wil wees, ontvang geen hulp met skoolgeld en skoolklere nie. Die wit mamma wat ook haar kinders wil lei om hul beste te bereik, mag nie hulp kry vir ekstra klasse nie. 

Op julle advertensie is vetkryte met laggesiggies. Aan die agterkant behoort egter vetkryte met huilgesiggies te wees – vir die kinders wat uitgesluit word. “Beurse is ons geskenk en onderwys ons lewe en toekoms”, is jul slagspreuk – solank jou velletjie nie wit is nie. 

Ek vermoed daar is ʼn rede waarom die drempel op R15 300 vasgestel is. Julle sou navorsing gedoen het en bevind het dat lae-inkomsteverdieners uitdagings ervaar om hul kinders die nodige ondersteuning vir onderwys te gee. Julle sou, as ʼn verantwoordelike werkgewer, aangevoer het dat die waardevolste voordeel vir werknemers ondersteuning vir hul kinders se onderwys is. Die beste manier om die armoedesirkel te breek is deur middel van onderwys. 

Op grond waarvan sou jy bevind het dat wit mammas in die lae-inkomsteprogram nie presies dieselfde behoeftes as swart mammas het nie? Hoe op dees aarde kan jy bepaal dat ʼn wit mamma, wat minder as R15 300 verdien, meer bevoorreg is as ʼn swart mamma wat minder as R15 300 verdien? 

Die uitsluiting van wit mense maak van hierdie program ʼn rasprogram. Dit wat jy vir swart kindertjies doen is edel, maar dit wat jy aan wit kindertjies doen is rassisties. 

Die Verenigde Nasies se riglyne oor rasprogramme is dat klas eerder as ras gebruik moet word. Absolute rasprogramme is onwettig. Uitsluiting op grond van ras is teen die gees van die ooreenkoms wat tussen Solidariteit en die regering onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie gesluit is. 

Dis in alle opsigte verkeerd. Jy het slegs die gees van rasmalheid gevolg. 

Jy’s ʼn sakeleier. In 2023 was jy onder die top 100 invloedrykste vroue op Fortune en Forbes se lyste. Jy was in dieselfde jaar Sunday Times se sakeleier van die jaar. 

Meer as dit, jy sê jy’s eers ʼn ma – en dán die uitvoerende hoof van Bidvest. 

Wees ʼn leier én ʼn ma. Bidvest is ʼn leiermaatskappy. Moenie ʼn rasvolgeling wees nie. Breek die siklus van rasmalheid. 

Dink aan die ander ma’s met dieselfde strewe as jy en ander werknemers. Sit glimlaggies op almal se vetkryte. 

Stop die raselement van die program. Ter wille van die kinders. 

Groete

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit


Luister die brief hier:

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel