
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Polisie meer as R200 0000 aan kaptein van honde-eenheid verskuldig na afjak
ʼn Honde-eenheidbevelvoerder van KwaZulu-Natal wie se aansoek om bevordering ten bate van ʼn swakker kandidaat oor die hoof gesien is, moet deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vergoed word. Lees meer hier.
Deur Heléne Mocke
Solidariteit het onlangs dié oorwinning beklink in die saak van kapt. Rajanthren Munsamy, wat in 2022 aan duidelike onbillike en onregverdige praktyk in die aanstellingsproses blootgestel is.

Kapt. Rajanthren Munsamy, K9-eenheidbevelvoerder by die KwaZulu-Natalse Polisie Nooddiens.
Voor sy aftrede het Munsamy as K9-eenheidbevelvoerder by die KwaZulu-Natalse Polisie Nooddiens gedien, toe hy aansoek gedoen het vir die pos van K9-bevelvoerder in Witrivier, Mpumalanga. Ondanks sy sterk aansoek is hy nie aangestel nie en dit sou later blyk dat ʼn kandidaat wat veel swakker in die onderhoudproses gevaar het, daarby gebaat het.
Gedurende die onderhoudproses vir die pos is Munsamy as tweede beste kandidaat gelys, met ’n uiteindelike telling wat 6% hoër was as die kandidaat wat uiteindelik aangestel is.
Die SAPD het aanvanklik beweer dat die beste kandidaat wél in die pos aangestel is, maar dit het mettertyd aan die lig gekom dat ras die deurslaggewende faktor was in die aanstelling van die derde beste kandidaat. Ironies genoeg sou Munsamy se aanstelling wél in lyn gewees het met toepaslike rasseverteenwoordigingsdoelwitte, aangesien hy ’n Indiër-man is. Tog is hy steeds oor die hoof gesien.
Nadat Solidariteit namens die lid toegetree het, het die Staatsdiens- en Sekuriteitsdienste-arbitrasieraad (SSSBC) aan die einde van 2024 beslis Munsamy se saak kom neer op prosedurele en substantiewe onbillike arbeidspraktyk. Die raad het die SAPD beveel om ses maande se vergoeding aan hom uit te betaal – ’n bedrag wat R231 858,00 beloop.
Die SAPD en ander staatsinstellings is verplig om hulle eie riglyndokumente en beleidsraamwerke rakende bevorderingsprosedures te volg.
“Regstellende aksie mag nie arbitrêr of selektief toegepas word om bevoegde kandidate te benadeel nie. In hierdie geval het die polisie gefaal om objektief, regverdig en wettig op te tree,” sê Christian Serfontein, litigant verbonde aan Solidariteit wat die saak namens Munsamy hanteer het.
Volgens Serfontein bevestig die uitspraak net weereens dat Solidariteit se stryd teen onregmatige diskriminasie nie om dowe neute is nie.
“Wanneer werkgewers onregmatige taktieke aanwend om lojale, hardwerkende lede te benadeel, sal Solidariteit nie skroom om in te gryp en op te tree nie,” sê hy.
Solidariteit sal deurgaans staatsinstellings soos die SAPD verantwoordelik hou soos duidelik te sien is in tientalle soortgelyke uitsprake teen die SAPD oor die afgelope jaar.