
Foto Krediet: Solidariteit | Mari Ferreira
Gekopieër
‘Net admin? Nooit weer nie.’
Meer as ʼn jaar ná my ontmoeting met ʼn vrou wat met ʼn sagte stem gesê het: “Ek doen nét admin”, dink ek steeds aan haar en wonder dikwels hoe dit met haar gaan.
Haar woorde het my daardie dag diep geraak en eggo dikwels in my gedagtes. Haar woorde is ʼn klankbord van baie ander stemme wat moontlik dieselfde voel: onbelangrik, vervangbaar en oor die hoof gesien.
Ek wens ek kon in daardie oomblik haar in die oë kyk en met oortuiging sê: “Jy doen nie nét admin nie. Jy doen alles wat saak maak en soveel meer.”
Ek ontmoet elke dag ongelooflike, inspirerende mense wat hul werk met dieselfde nederigheid beskryf: “Ek is nét voor by ontvangs” of “Ek help nét met die boekhouding” of selfs “Ek reël maar nét die vergaderings.”
“Maar nét …”
Wat is dit omtrent daardie klein woordjie wat die skoonheid, trots en die impak van ʼn werk so vinnig kan afwater?
Ek dink weer terug aan daardie dag. Daardie pienk beker met die koue koffie. Die dagboek vol take wat dringend afgehandel móét word. Dan dink ek aan haar glimlag, ten spyte van die dol dag en hoe sy ander se belange voor haar eie plaas.
En ek besef nétweer: Hierdie is nie nét ʼn werk nie – hierdie is ʼn roeping.
Administrasie is nie ʼn taaklys of ʼn handboek vol prosesse nie, maar ʼn hart wat klop vir orde, vir diens en om ʼn verskil te maak.
Dit is ʼn hand wat op die regte tyd die regte dokument uitdruk, die regte e-pos stuur en die regte persoon skakel. Dit is ʼn oog wat detail raaksien, wat ander dalk mis. Dit is ʼn gees wat nooit tou opgooi nie, ongeag die hoeveelheid krisisse van die dag.
Jy is nie die kantoor se agtergrondmusiek nie, maar eerder die ritme wat alles laat werk.
Jy hou dinge bymekaar en maak reg wat stukkend is. Jy vertaal chaos na struktuur. Jy herinner, ontvang, verstaan en ondersteun.
En tog, te dikwels, voel jy dalk onbelangrik en asof jy oorgesien word. Of jy voel dat jy jouself moet verdedig wanneer jy vir ander vertel wat jy doen. Of jy vergeet dat jy eintlik ʼn anker is.
Ek het vandag nét een boodskap vir jou: Moet nooit weer sê jy doen “nét admin” nie. As admin-krygers hou julle die wiele van organisasies aan die draai. As daar chaos is, bring julle orde. As daar verwarring is, bring julle duidelikheid. As daar dringendheid is, bring julle aksie.
Jy is nie ʼn byspeler nie, maar die spilpunt waarom alles draai, en die eerste indruk van enige organisasie.
So, aan jou wat die kantoordeur elke oggend eerste oopsluit en laaste toesluit; aan jou wat weet hoe elke afdeling werk en wat almal se name onthou; aan jou wat altyd eerste koffie skink en laaste aan jouself dink …
Ek sien jou.
Ek eer jou.
Ek is innig dankbaar vir jou.
Jy is nie nét admin nie. Jy is trots. Jy is krag. Jy is onmisbaar.
Moet nooit weer jou waarde betwyfel nie.
As jy nog nie my vorige blogplasing oor dié vrou se storie en haar impak gelees het nie – doen jouself asseblief ʼn guns en lees dit hier.
Klik hier en word vandag nog deel van jou aanlyn beroepstuiste en kry toegang tot artikels, blogs, video’s en soveel meer wat van toepassing op jóú beroep is.