
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit bewaar ons erfenis en bou verder
Deur Flip Buys
Voorsitter: Solidariteit Beweging
Meer as 2 500 jaar gelede moes jong mans in Antieke Griekeland, wat diensplig moes doen om burgerskap van die Athene te kry, ʼn merkwaardige eed aflê. Hierdie eed het die grondslag van die Westerse kultuur en -beskawing geword.
Die 18-jarige mans moes beloof om hulle stad en die erfenis wat hulle van hul voorgeslagte gekry het, te bewaar, te verbeter, en dan soos ʼn aflosstokkie vir die volgende geslag aan te gee. Daarby moes hulle onderneem om hul gemeenskap dapper te verdedig, die stad se wette met eerbied te gehoorsaam, hul regeerders teen te staan as dié nie eerbaar optree nie, burgerlike verantwoordelikheid vir hulle stad en sy mense te neem, en om die God van hul vaders te dien.
Hierdie eed met sy kern van bewaring en verbetering het deur die eeue heen in baie vorme weerklink, maar die wese daarvan was altyd dieselfde. Dit is dat ʼn gemeenskap ʼn verbond is tussen dié wat reeds dood is, dié wat vandag lewe en dié wat nog gebore moet word. Dit beteken dat ʼn volk gesien is as ʼn onbreekbare ketting van geslagte, waar elke skakel vir sy eie tyd verantwoordelikheid moes neem. Elke geslag moet dit wat hul ontvang verbeter, maar hul mag dit nie weggee of ten gronde laat gaan nie, want dit is nie net hulle s’n nie. Dit behoort aan die ketting van geslagte wat in die waas van die eeue ontstaan het, en tot in die verre toekoms in strek.
Die wese van die Westerse sukses oor die eeue heen spruit dus in wese daaruit dat Westerlinge histories dít wat ons van ons voorgeslagte gekry het, bewaar en verbeter het, en dit weer na die volgende geslag toe oorgedra het. Elke geslag het net verder en hoër gebou as die vorige een. Almal begin nie weer voor, staan stil of steek in die verlede vas nie. Hierdie Westerse kultuurskat is deur sterk instellings soos skole, stede en gemeenskapsorganisasies van geslag tot geslag bewaar en oorgedra na die volgende geslag. Die Westerse kultuur was en is nie volmaak nie, en het hulself nes ander groot beskawings aan gruwels soos slawerny, verwoestende oorloë, verdrukking en uitbuiting skuldig gemaak. Die grootsheid van die Weste lê dus nie daarin dat ons kultuur altyd beter is nie, maar dat die Weste homself voortdurend verbeter het.
Van Riebeeck se skatkis
Hierdie Westerse kultuurskat is deur Jan van Riebeeck na Suid-Afrika gebring en het stelselmatig na die binneland uitgebrei deur historiese bewegings soos die Groot Trek. Hierdie kulturele skatkis het bestaan uit “hardeware” soos die markekonomie, die regsorde, wetenskap en tegnologie, stede en infrastruktuur, en “sagteware” soos beskryf in die Atheense Eed – persoonlike verantwoordelikheid, ondernemerskap, werksetiek, Christelike waardes en ʼn roepingsbesef. Dit beteken nie dat alles wat Van Riebeeck met die skip gebring het of wat die Trekkers met hulle waens na die binneland saamgebring het net reg en volmaak was nie. Die kern van deurlopende bewaring, regstelling en oordra na die opvolgende geslagte het egter die kultuur heeltyd verder verbeter.
Dit het ook deel geword van Afrikaners se “geboorte papiere” oftewel stigtingsdokumente. Dink maar aan president Kruger se laaste boodskap van “neem uit die verlede wat skoon en mooi is en bou die toekoms daarmee”, en Langenhoven se bede in die laaste vers van “Die Stem” waar hy vra “… dat die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly”. Hierdie kulturele skatkis is veel meer as braaivleis, rugby en sonneskyn. Dit is ʼn werkende land, ʼn produktiewe ekonomie, ʼn regverdige regsorde, ʼn eerbare demokratiese regering, bekwame staatsadministrasie, ʼn produktiewe en goed betaalde werksmag. Dit is wêreldklas stede en goed regeerde dorpe, goeie skole, en wêreldklaskolleges en -universiteite. Dit is ʼn moderne samelewing met al die dienste en geriewe wat daarmee gepaardgaan soos werkende hospitale, paaie, huise en infrastruktuur. Hierdie skat van ons kultuur moet ons – soos van Wyk Louw só treffend sê – “…veilig deur die massa dra” en vir die volgende geslag bewaar.
Ons geslag se taak
Die geskiedenis gee aan elke geslag ʼn taak. Sommiges kry makliker take as ander. Party kry baie, ander moet baie gee. Omdat daar egter ʼn verbond tussen die geslagte is; omdat ʼn beskawing ʼn ketting van geslagte is wat soos met ʼn afloswedloop dít wat jy kry moet bewaar en vir die volgende geslag aangee; omdat die een geslag van die vorige en die volgende een afhanklik is, beteken dit dat as net een geslag nie sy taak opneem nie, daardie ketting vir altyd verbreek is. Dan gaan daardie beskawing onder, verskraal tot ʼn voetnota in ʼn geskiedenisboek.
Die geslagte voor ons het met groot uitdagings te kampe gehad. Die een geslag moes die Groot Trek aanpak, die volgende een die Anglo-Boereoorlog. Daarna het die modernisering van Afrikaans gevolg waardeur die land opgebou is. Die volgende geslag moes die Koue Oorlog en die Grensoorlog trotseer. Die volgende geslag moet ʼn oplossing vind vir ʼn meerderheidsregering wat in meerderheidsoorheersing ontaard.
Solidariteit se taak
Solidariteit het die taak aangepak om vir ons kinders ʼn toekoms te skep, en ʼn mooi erfenis aan ons kinders en hulle kinders na te laat. Daarom is Solidariteit voortdurend sterker uitgebou tot ʼn organisasie wat sy lede help met hulle werk, en wat duisende mense met die nuwe werkfasiliteringsplatform bystaan om werk te kry. Dit is ook die rede waarom ʼn hele beweging van organisasies tot stand gebring is onder die sambreel van die Solidariteit Beweging. Dit behels onder meer die volgende:
- • Akademia wat universiteitsopleiding aan duisende studente bied;
- • Sol-Tech, die voorste en grootste beroepsopleidingskollege in die land;
- • Maroela Media, wat gratis leesstof aan tweemiljoen mense per maand bied;
- • Solidariteit Helpende Hand, wat landswyd maatskaplike dienste aanbied, en meer as ʼn duisend jong mense per jaar met studiehulp bystaan;
- • AfriForum, wat oor die 160 dorpe met dienste help en met hulle buurtwagte na ons gemeenskap se veiligheid omsien;
- • die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), wat bystand aan meer as 500 skole bied en nog groot planne vir onafhanklike skole het;
- • die FAK wat ook deel van ons Beweging is en ons belangrikste erfenisse soos die Voortrekkermonument onderhou;
- • Kanton Eiendomme, ons maatskappy wat onder meer die Sol-Tech-kampus en -koshuise gebou het, en nou aan Akademia se kampus werk; en
- • die Solidariteit Beleggingsmaatskappy, wat help met die finansiering van hierdie groot projekte, ondermeer deur Virseker se korttermynversekeringsaanbod.
Hierdie is maar net ʼn baie kort opsomming van die verskeie organisasies wat deel uitmaak van ons Solidariteit Beweging en wat hulle doen. Die belangrikste is dat ons soos die antieke Atheners dit wat ons van ons voorsate gekry het bewaar en in ʼn beter toestand aan die volgende geslag wil aangee. Dit strek van mense se werk, veiligheid, eiendom, erfenisse, onderwys, opleiding, media, dorpe, weerlose mense, tot by die ekonomie, die regsorde en die vryheid van ons gemeenskap.
Ons is trots op dit wat ons voorouers tot stand gebring het, hartseer oor dit wat oorgeneem en afgebreek is, maar glo dat dit nou ons taak is om op te bou sodat ons nageslag weer trots op óns kan wees. Baie dankie dat jy saam bou aan ʼn mooi toekoms vir ons kinders!