loading
Mediaverklarings
11 uur gelede
suid-afrika-se-probleme-uitgelig-in-die-withuis

Foto Krediet: Regstreekse uitsending

Suid-Afrika se probleme uitgelig in die Withuis

Solidariteit verwelkom die feit dat Suid-Afrika se enorme probleme op die internasionale verhoog geplaas is. Dit is noodsaaklik om hierdie probleme op te los. Lees meer hier.


Die kwessies wat geopper is, sluit in: misdaad (veral plaasmoorde), diskriminasie teen minderhede soos Afrikaners, grootskaalse korrupsie, die verval van infrastruktuur, werkloosheid, onwettige immigrasie, en die feit dat talle Suid-Afrikaners die land wil verlaat. Hierdie sake is op ʼn rou, maar eerlike wyse tydens die ontmoeting tussen president Donald Trump en president Cyril Ramaphosa na vore gebring.

President Ramaphosa het probeer om Trump se bekommernisse oor Suid-Afrika af te maak deur middel van sorgvuldig geformuleerde komplimente, versoeke vir samewerking, en die uitwys van gedeelde belange en oortuigings. Hierdie pogings was egter onsuksesvol.

Trump was, nes Ramaphosa, deeglik voorbereid vir die vergadering. Die herhaaldelike vertoning van beeldmateriaal van die sing van die “Kill the Boer”-lied en die beelde van kruise wat slagoffers van plaasmoorde simboliseer, was ʼn kragtige manier om die gesprek weg te lei van ekonomiese en handelsaangeleenthede na presies dié kwessies waaroor Ramaphosa nie wou praat nie.

Tot onlangs het Ramaphosa die krisis rondom plaasmoorde ontken en hy weier steeds om die sing van “Kill the Boer” openlik te veroordeel. Trump het hom, hoewel indirek, gedwing om hierdie kwessie voor die wêreldmedia aan te spreek. Die wyse waarop die krisis rakende boere en die voortbestaan van Afrikaners uitgelig is, word verwelkom.

Vir Solidariteit is dit belangrik dat die verhouding tussen Suid-Afrika en die VSA herstel word. Dit kan egter nie slegs deur handelsooreenkomste bereik word nie. Dit is ook nodig om belangrike politieke vraagstukke aan te spreek – soos rassediskriminasie teen minderhede, plaasaanvalle en die regering se versuim om daadwerklik op te tree, asook Suid-Afrika se buitelandse beleid. Dit is bemoedigend dat president Trump elke poging deur die Suid-Afrikaanse afvaardiging om hierdie kwessies te vermy, gefnuik het.

Suid-Afrika se ekonomiese probleme kan nie sonder verhoogde investering en uitgebreide handel met die VSA opgelos word nie. Dit kan ook nie opgelos word sonder die herstel van eiendomsreg, die uitfasering van rassewette, die erkenning van minderhede se rol, die aanspreek van die plaasmoordkrisis, en die heroriëntering van Suid-Afrika se buitelandse beleid nie. President Trump het Suid-Afrika geforseer om in daardie rigting te beweeg, en ons verwelkom hierdie ontwikkeling.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel