loading
Artikels
1 jaar gelede
afgedank-wat-nou

Foto Krediet: OkayDeer

Afgedank, wat nou?

Deur René Brown

Om by jou werk afgedank te word, kan jou in ʼn krisis dompel waar jy nie weet watter kant toe volgende nie. Saam met die skok kom talle bekommernisse, soos hoe jy jou uitgawes gaan dek totdat jy weer ʼn werk kan vind. Wat presies staan jou te doen indien jy deur jou werkgewer afgedank word?

In die geval van onbillike afdanking

Ingevolge Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing moet ʼn afdanking aan twee vereistes voldoen om as ʼn billike afdanking te geld: Die afdanking moet substantief sowel as prosedureel billik wees.

Substantiewe billikheid verwys na die feit dat die werkgewer ʼn geldige rede vir die afdanking aangevoer het tesame met voldoende bewyse om die saak te staaf. Prosedurele billikheid verwys na die feit dat die regte prosedures met betrekking tot die afdanking gevolg is om te verseker dat al die verrigtinge regverdig uitgevoer is.

Wanneer daar nie ʼn regverdige en billike rede vir die afdanking is nie, en/of die wetlik vereiste prosedures nie deur die werkgewer gevolg is nie, kan die werkgewer hom skuldig maak aan onbillike afdanking. Wanneer ʼn werknemer voel dat die rede vir die afdanking, of die prosedure, onbillik was, kan die werknemer dus die billikheid van die afdanking bevraagteken deur ʼn geskil oor onbillike ontslag teen die werkgewer by die relevante bedingingsraad of by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) indien.

Dit is belangrik om daarop te let dat die geskil binne 30 dae ná die afdanking by die betrokke bedingingsraad of by die KVBA ingedien moet word. Indien bevind word dat die afdanking wel onbillik was, kan die werknemer in die pos heraangestel word, of vergoeding ontvang as kompensasie.

In die geval van ʼn onbillike afdanking kan die werknemer tot en met 12 maande se loon as vergoeding ontvang.

Daar is ook redes vir afdanking wat as ʼn outomatiese onbillike afdanking geld, ten spyte daarvan dat wettige prosedures gevolg is. ʼn Paar voorbeelde van outomatiese onbillike afdanking is: waar swangerskap as die rede vir afdanking aangevoer word; afdanking as gevolg van wettige vakbondaktiwiteite; of weiering om ʼn onbillike verandering van werksomstandighede te aanvaar.

Wanneer daar vasgestel word dat dit ʼn outomatiese onbillike afdanking was, kan die werknemer geregtig wees op tot en met 24 maande se lone as vergoeding.

In die geval van billike afdanking

Ingevolge Suid-Afrikaanse arbeidswetgewing is daar drie tipes billike afdanking, naamlik afdanking weens wangedrag; afdanking weens swak prestasie/onbevoegdheid; asook afdanking weens operasionele vereistes (afleggings).

Wat is jou regte voor afdanking?

In die geval van wangedrag:

Die werkgewer moet die beweerde wangedrag ondersoek en ʼn dissiplinêre verhoor hou. Die werknemer moet redelike kennis van die verhoor ontvang met duidelike klagte om in staat te wees om daarvoor te kan voorberei.

Afdanking is altyd die laaste opsie indien die werknemer skuldig bevind word. Ander sanksies mag meer gepas wees as afdanking.

In die geval van swak prestasie/onbevoegdheid, asook operasionele vereistes (aflegging):

ʼn Deeglike konsultasieproses tussen die werkgewer en die werknemer word vereis. Gedurende hierdie proses word alle inligting ondersoek en die werknemer word ook die geleentheid gebied om alternatiewe aksie/stappe voor te stel. Afdanking moet weereens die laaste opsie wees.

ʼn Werknemer is nie outomaties geregtig op verteenwoordiging deur ʼn prokureur of eksterne vakbondbeampte nie, maar kan wel deur ʼn vakbondverteenwoordiger of kollega in die konsultasie/verhoor bygestaan word.

ʼn Werknemer wat afgedank is, is daarop geregtig om ʼn eis teen die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) in te dien, ongeag die rede vir jou afdanking. ʼn Werknemer sal egter nie kan eis as hy of sy reeds ʼn skikking of skeidingspakket aanvaar het nie.

Dit is die werkgewer se verantwoordelikheid om by afdanking die korrekte vorms aan die werknemer te verskaf sodat die werkgewer die Departement van Arbeid kan nader om voordele van die WVF te ontvang.

Solidariteit se bestaansdoel is en bly werk. Daarom bied ons gratis regsverteenwoordiging aan ons lede ten opsigte van beroepsverwante sake wat na die KVBA of die arbeidshof verwys word.

Sluit aan by Solidariteit en ontvang gratis telefoniese arbeidsregsadvies. Kontak die Solidariteit Dienssentrum by 0861 25 24 23.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel