loading
Artikels
8 maande gelede
afrikaans-die-taal-van-jou-toekoms-2

Foto Krediet: OkayDeer

Afrikaans – die taal van jou toekoms, want #JyHoortHier!

Afrikaanssprekendes word gereeld gekasty oor hulle moedertaal. Die beledigings, beskuldigings en bekommernisse oor dié taal laat ons dikwels verward. Hierdie verwarring is eintlik frustrerend as mens in ag neem dat dit deur leuens veroorsaak word. Dit is hoog tyd dat ons die wanpersepsies takel, die halwe waarhede ontbloot en die feite laat tel …

Wat is van die halwe waarhede wat oor Afrikaans vertel word?

Engels is die taal van die toekoms

Engels is een van die sterkste tale op die internasionale terrein, maar dit is bloot ’n tydelike stand van sake. Navorsers beweer byvoorbeeld dat Frans Engels teen 2050 met sprekersgetalle sal verbysteek. Ander tale is ook aan die groei. Taalregte word boonop al meer prominent in die wêreld. Die besef groei dat die bevordering van streekstale, eerder as globale tale, lei tot beter taalvaardigheid, ekonomiese groei en maatskaplike stabiliteit. Jou moedertaal, saam met vele ander tale van die wêreld, is dus die taal van die toekoms.

Jy gaan moeilik aanpas in die samelewing as jy in Afrikaans studeer

Die meeste van die lande wat toppresteerders in die wêreld is, pas op skool moedertaalonderrig toe. Voorts bewys talle studies dat moedertaalonderrig studente se leervermoë en begrip merkwaardig verbeter. Mense wat so lank as moontlik, so ver as moontlik in hulle moedertaal studeer, het oor die algemeen sterker selfvertroue om hulle in enige geselskap te handhaaf.

Die vraag of mens in die sakewêreld gaan sukkel met Engelse terminologie as jy in Afrikaans studeer het, kan maklik beantwoord word: Dit is baie makliker om later jou tong te leer om ’n woord te vertaal, as wat dit is om elke woord wat jy in Engels leer in jou brein te vertaal. Moedertaalonderrig bevorder ook die vermoë om meer tale vinniger te kan aanleer en vlotter te kan praat. Om in omgewings aan te pas waar Afrikaans nie die dominante taal is nie, sal dus makliker wees vir studente wat in hul moedertaal studeer het.

Afrikaans as onderrigtaal is eksklusief

Afrikaans is een van die land se mees gesproke tale, met amper nege miljoen sprekers, oor verskillende rasse-grense. En hierdie getal Afrikaanssprekendes hou aan groei! Afrikaans as onderrigtaal by universiteite werk nie inklusiwiteit teen nie. Inteendeel, dit stel ’n voorbeeld van hoe ander Afrika-tale ook tot volwaardige akademiese taalvlak kan ontwikkel, soos Afrikaans dit gedoen het. Die stryd om Afrikaans by universiteite te behou is eintlik ’n stryd om meer inklusief te wees en nie eksklusief Engels te bevorder nie. Mense wat veg vir enkelmedium Engelse onderrig veg eintlik teen inklusiwiteit omdat hulle wil wegdoen met ’n diverse taal-aanbod. Om ten gunste van moedertaalonderrig te wees beteken nié dat ’n mens teen tweetaligheid of meertaligheid is nie.

Afrikaanse onderrig onderdruk ander tale

Afrikaanse onderrig geskied nie ten koste van ander tale nie, maar juis in samewerking met (en ter bevordering van) ander tale. Afrikaans is een van net vier tale in die wêreld wat in die twintigste eeu tot hoëfunksietaal ontwikkel het. Dit beskik dus oor unieke ervaring waarby ander tale in die land kan baat vind. Prof. Tyobeka, visiekanselier van die Noordwes-Universiteit, het byvoorbeeld vir my gesê dat Afrikaans die perfekte voorbeeld stel vir Afrika-tale om akademies te ontwikkel. Dit stel ’n bloudruk wat ander tale kan kopieer en met verskeie projekte van navorsers, of instellings soos die Afrikaanse Taalraad, word platforms geskep waar die kennis gedeel word. Boonop is dit baie belangrik om kennis daarvan te neem dat mense wat voel dat hulle taalregte beskerm en gerespekteer word, geneig is om meer aanvaarding en respek vir ander tale te toon. Stel jou voor dat Afrikaans as onderrigtaal gerespekteer word, dan sal dit sekerlik nie lei tot die onderdrukking van ander tale nie, maar eerder wedersydse respek afdwing.

Afrikaans is die taal van apartheid en dis al

Geen taal verteenwoordig net een historiese gebeurtenis of een standpunt nie. Verteenwoordig isiXhosa of isiZulu byvoorbeeld ANC-korrupsie? Nee. Net soos ons nie Duits kan afskryf omdat dit deur die Nazi’s gepraat is nie, kan ons nie die taal Afrikaans verantwoordelik hou vir gebeure in die apartheidstyd nie. Afrikaanssprekendes, nes Engelssprekendes, is nie ʼn homogene groep nie. Die diverse taalgemeenskappe en individue is ook nie stagnant nie – hulle ontwikkel en verander deurentyd. Voorts het die Afrikaanse taal ’n ryk geskiedenis wat veel verder terugdateer as net die apartheidsjare.

Ons unieke taal, Afrikaans, word beskou as ’n taalkundige wonderwerk weens hoe vinnig en vêr dit ontwikkel het. Dit is nie net ’n halwe waarheid dat “Afrikaans gaan uitsterf” nie, dit is ’n blatante leuen!

Jou moedertaal is die taal van jou toekoms! Dìt is waarom die Solidariteit Beweging nie net ons taalregte wil beskerm nie, maar ook ons taal, saam met die krag van ons gemeenskappe, bevorder. Sol-Tech, Akademia, Bo-Karoo Opleiding en die Wolkskool is maar net ’n paar voorbeelde hiervan. Kom ons praat, leer, leef en lag in ons taal, Afrikaans. Jy hoort hier, jou nageslag hoort hier en jou taal hoort hiér in Suid-Afrika.

Raak deel van Solidariteit waar jy vry, veilig en voorspoedig in Afrikaans kan tuis voel, want #JyHoortHier!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel