Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Afrikaans is ʼn taal vir jongmense!
Deur Marné Pienaar
Dit is 1875. Agt mans kom in die Paarl byeen om die toekoms van Afrikaans te bespreek – ’n vergadering wat sou lei tot die stewige vaslegging van ’n fondasie waarop ons vandag steeds Afrikaans bou.
Op 14 Augustus 1875 het die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) tot stand gekom met die hoofdoel om die Bybel in Afrikaans te vertaal. Dié genootskap het egter vinnig sy visier verbreed om Afrikaans as taal in die geheel te bevorder. Hierdie agt mans het gesê Afrikaans hoort hier en verdien om as taal geag te word.
Dit is vanjaar 149 jaar sedert die stigting van die GRA. Afrikaans het oor die afgelope 150 jaar blitsvinnig tot ʼn akademiese taal gevorder, en ons moet vandag steeds veg vir haar voortbestaan.
Dit is egter nie net taalpuriste en Afrikaanse onnies wat omgee oor Afrikaans nie. Inteendeel, Afrikaans was nog altyd die jongmens se taal! Nie net was hierdie agt mans aan die voorpunt van die Afrikaanse taalbeweging nie, maar hulle was byna almal bloedjonk!
- • C.P. Hoogenhout (32), onderwyser en skrywer van die bekende gedig “Vooruitgang” wat begin met die meer bekende aanhaling “Engels! Engels! Alles Engels!”.
- • D.F. du Toit (29), ook bekend as Oom Lokomotief, was ʼn taalstryder, joernalis en letterkundige.
- • Ds. S.J. du Toit (27), die bekende digter Totius se pa, was ook ʼn Bybelvertaler en was die eerste redakteur van Die Afrikaanse Patriot, ʼn koerant wat deur die GRA tot stand gebring is.
- • Ds. A. Ahrbeck (24), leraar en taalstryder.
- • S.G. du Toit (20), sekretaris van die GRA en skoolhoof.
- • Gideon Malherbe (42), ʼn wynboer. Die GRA is in sy huis gestig en die huis kan vandag nog besoek word.
- • D.F. du Toit (21), bekend as Dokter, was ʼn drukker van beroep.
- • P.J. Malherbe (22), ook ʼn wynboer, was ook ʼn skrywer, digter en dramaturg.
Miljoene Afrikaanssprekendes van oral in Suid-Afrika en die wêreld getuig van ons liefde vir Afrikaans en werk om Afrikaans te bevorder en te beskerm – alles te danke, nie aan ʼn klomp omies met grys hare (soos wat ek tot onlangs toe ook gedink het) nie, maar aan jong mans wat gedroom het van ʼn Bybel in Afrikaans.
Skielik is die skoene wat ons volstaan véél groter…
Ons hou daarvan om te sê ons is Afrikaans, maar doen ons werklik ons deel om die stryd te stry? As jy in hulle skoene was, sou jy betrokke raak by die stigting van ʼn organisasie soos die GRA, of is dit, soos vir baie van ons, genoeg om te weet dat ander (seker) die geveg veg?
Solidariteit sê met trots: #JyHoortHier. Jy hoort hier en so ook jou taal.
#JyHoortHier, want dit is die geboorteplek van jou moedertaal, Afrikaans.
Ek dink die GRA het baie meer agtergelaat as wat hulle kon voorsien. Op 15 Januarie 1876 is Die Afrikaanse Patriot vir die eerste keer uitgegee – die voorloper van vandag se koerant in die Paarl wat as die eerste Afrikaanse koerant beskou word. Te danke aan die GRA het talle ander publikasies die lig gesien, onder meer Afrikaanse grammatika- en geskiedenisboeke, ’n Afrikaanse almanak, ’n spel- en leesboek, ’n woordeboek, versamelde Afrikaanse gedigte en prosawerke.
En ék het ʼn rympie nodig om te weet hoe om “interessant”te spel – een (r)okkie en twee (s)koene) – terwyl ander jonger as ek grammatika- en woordeboeke skryf.
Dit is ʼn voorreg om in jou taal te kan leer, te studeer, te kan Bybel lees en te werk – ʼn voorreg wat ek elke dag in my werk kan uitleef. Nou sal ek nie vinnig weer vergeet dat Afrikaans ʼn taal vir jongmense is nie.
Solidariteit vier Afrikaans! Jy hoort hier waar jy in jou moedertaal kan lag, kan speel, kan werk en kan bid. Dit is hier waar ons instellings bou sodat ons kinders en kleinkinders ook die voorreg kan hê om in Afrikaans te studeer.
Skep jou gratis profiel op Solidariteit en raak deel van jou grootse Afrikaanse aanlyn werkgemeenskap. Bou saam met ons aan die toekoms, want #JyHoortHier!