Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Afrikaans, jou dae in die skool is getel!
Deur Maryna Eksteen
Dit is nie ʼn geheim dat Afrikaans deur politieke drukgroepe as die taal van die onderdrukker bestempel word nie. Dit is al voor en veral sedert 1976 die geval. Ironies genoeg was Afrikaans sélf voor die apartheidsjare onderdruk, maar min word daaroor gesê. Die Britse koloniale magte het probeer om Engels as die dominante taal in Suid-Afrika te vestig, maar Afrikaners het hard geveg om Afrikaans ʼn amptelike taal te laat word, wat uiteindelik in 1925 gebeur het.
Ná die Anglo-Boereoorlog het die Afrikaners politieke beheer gekry, wat gelei het tot die instelling van die apartheidsbeleid in 1948. Dit is belangrik om te onthou dat Afrikaans duur gekoop is met onder meer die bloed van vroue en kinders in konsentrasiekampe en mans wat op die slagveld met hulle lewe betaal het. Dit is weereens nie iets waaroor gereeld gepraat word nie. Ek kan nie namens die Afrikaners van 1925 praat nie, maar ek is seker hulle sou sê dat hulle ʼn stelsel daargestel het om hulle taal te beskerm waarvoor hulle so hard geveg het.
Apartheid is in 1994 afgeskaf met die oorgang na ʼn demokratiese Suid-Afrika, maar die realiteit is dat die apartheidstelsel én sogenaamde pogings om dit te probeer regstel, rasse-segregasie en diskriminasie versterk het, en vandag kan ons dit sien met die omstrede artikels in die Bela-wet. Afrikaners het gelukkig ʼn geskiedenis van opstaan teen ongeregtigheid, hetsy teen Britse oorheersing of ander politieke druk. Net soos die Engelse destyds probeer het om ons kultuur en taal te onderdruk, mag die staat ons vandag probeer kneus, maar ons sal nie gaan lê nie! Ek sal nie terugsit en toekyk hoe die geskiedenis homself herhaal nie. Wanneer die staat vir ons sê dat Afrikaans se dae in skole getel is, dan sê ons ons sal nie gaan lê nie.
Solidariteit veg en bou, en daarom kan ek hierdie stuk met ʼn geruste hart skryf. Solidariteit veg teen ongeregtigheid. Maar meer as dit, hulle bou! Wanneer die staat universiteite soos Stellenbosch, Noordwes-Universiteit en die Universiteit van Pretoria verengels, staan die Solidariteit Beweging op en bou ʼn Akademia en Sol-Tech. Wanneer skole soos Hoërskool Monument en Laerskool Danie Malan dubbelmediumskole word, dan bou die Solidariteit Beweging die Gimnasium Pretoria waar kinders vry kan voel om in Afrikaans hul kultuur uit te leef en die Here te dien.
Wanneer Solidariteit nie bou nie, dan veg ons. Ons veg teen belaglike goed soos plakkies wat as pandemiemaatreël verban word, en meer ernstige sake soos die Nasionale Gesondheidsversekering en die omstrede Bela-wet. Dit is nie in die Afrikaner se DNS om af te breek, klippe te gooi of bande te brand nie, maar protes is die enigste taal wat die ANC werklik praat. Solidariteit wil binnekort ʼn vredevolle protesaksie hou om sy stem dik te maak teen die drakoniese artikels van die wet.
Ek en my gesin sal saam met Solidariteit protes aanteken sodat my kind in Afrikaans kan skoolgaan. Ons sal saam veg sodat my kind nie net Afrikaans kan praat nie, maar sy identiteit as Afrikaner kan vestig. Ons sal saam veg sodat my kind as Afrikaner die waardes en dissiplines kan toepas wat ek vir hom by die huis leer. Ons sal saam veg, want ons hoort hier en ons sal nie toelaat dat ons taal voor ons oë vermoor word nie.
Die gesprek oor Afrikaans is nie net een vir vandag nie, maar vir die geslagte wat kom. Ons jongmense moet verstaan dat taal nie net ʼn kommunikasiemiddel is nie, maar ʼn draer van kultuur, identiteit en gemeenskaplike geskiedenis. Ons het ʼn verantwoordelikheid om hulle te bemagtig sodat hulle kan voortbou op die nalatenskap van ons voorouers, en sodat hulle met trots in Afrikaans kan droom en werk. Solidariteit se inisiatiewe, soos Akademia en Sol-Tech, wys hoe ons op ʼn konstruktiewe manier ʼn toekoms vir ons kinders skep waar hulle nie net in hul moedertaal kan leer nie, maar ook ʼn volwaardige bydrae tot die samelewing kan maak – trots en onafhanklik.
Ons staan vandag op die skouers van ons voorouers wat met bloed en sweet ons taal en kultuur bewaar het. As ons toelaat dat Afrikaans uit ons skole en universiteite verdwyn, verloor ons nie net ʼn taal nie, maar ʼn deel van ons identiteit. Solidariteit se stryd is nie net vir die taal van die verlede nie, maar vir die toekoms van elke Afrikanerkind. Ons het geen ander keuse as om te bou en te veg nie – want ons hoort hier, ons kinders hoort hier en ons taal hoort hier. Dit is nie net ʼn protes nie; dit is ʼn belofte aan die geslagte wat kom.