loading
Blogs
3 weke gelede
afrikaans-sal-bly-staan-ondanks-panyaza-lesufi-se-aanvalle

Foto Krediet: Solidariteit

Afrikaans sal bly staan ondanks Panyaza Lesufi se aanvalle

Panyaza Lesufi, Gauteng se premier en voormalige LUR vir Onderwys, het oor die jare heen ʼn reputasie opgebou as iemand wat openlik sy vyandigheid teenoor Afrikaans te kenne gee. Sy uitsprake oor die taal en sy rol in die implementering van die omstrede Bela-wetgewing is nie net ontstellend nie, maar ook ʼn direkte bedreiging vir taalregte, minderheidsgroepe se regte en die toekoms van moedertaalonderrig in Suid-Afrika.

Lesufi het herhaaldelik beweer dat Afrikaans in skole mense “uitsluit” en dat dit onbillik teenoor ander tale en gemeenskappe is. Hy het voorheen gesê:“Afrikaans is ’n probleem, want dit word gebruik om skole eksklusief te hou.”

Hierdie narratief is nie net misleidend nie, maar gevaarlik. Dit ignoreer die feit dat Afrikaanse skole juis gestig is om die reg op moedertaalonderrig te verseker – ’n reg wat in artikel 29 van die Grondwet vervat is. Afrikaanssprekendes betaal boonop belasting net soos enige ander kultuurgemeenskap se mense en verdien dieselfde reg op toegang tot kwaliteit onderwys in hul moedertaal.

Lesufi se herhaaldelike pogings om skole te verengels, is niks anders as ʼn ideologiese veldtog teen ʼn taal wat een van die land se twaalf amptelike tale is nie. In sy oë word Afrikaans telkens as die “vyand” uitgemaak, terwyl die werklike probleem – swak bestuurspraktyke en korrupsie in die onderwyssektor – opsy geskuif word.

Die Bela-wet is nóg ’n instrument waarmee Lesufi en sy bondgenote probeer om Afrikaans tot stilstand te dwing. Artikels 4 en 5 van hierdie wetsontwerp maak dit moontlik vir provinsiale onderwysdepartemente om oor taal- en toelatingsbeleide in skole te besluit, wat die beheer van skole se beheerliggame wegneem. Dit beteken dat skole se taalbeleid deur politici, en nie deur ouers en gemeenskappe nie, bepaal sal word.

Lesufi en ander ondersteuners van die Bela-wet voer aan dit gaan “transformasie” bevorder, maar in werklikheid ontneem dit gemeenskappe van hulle reg om oor die onderrigtaal van hul kinders te besluit. Solidariteit is egter onwrikbaar in sy siening: ons sal nie toelaat dat hierdie wet gebruik word om Afrikaanssprekende kinders van hul taal en kultuur te vervreem nie.

Panyaza Lesufi se uitsprake en beleid mag intimiderend wees, maar Solidariteit gaan nie skroom om tot die uiterste te gaan om hierdie bedreiging te beveg nie. Ons gaan nie terugsit terwyl Artikel 4 en 5 en ander taalregte uitmekaar geskeur word nie.

Afrikaans is nie net ʼn taal nie – dit is ’n identiteit, ’n erfenis en ’n toekoms. Daarom het Solidariteit reeds verskeie hofgedinge geloods en veldtogte van stapel gestuur om die Bela-wetgewing te keer en die reg op moedertaalonderrig te beskerm. Ons sal nie gaan lê nie, want ons weet wat op die spel is. Dit is ons kinders se toekoms en die behoud van ʼn diverse en ryk opvoedkundige stelsel wat elke kind in hul moedertaal sal kan akkommodeer.

Afrikaans gaan egter nie verdwyn nie, al maak Lesufi nog meer uitsprake en al probeer hy wetgewing in die naam van ‘gelykheid’ deurdruk. Ware gelykheid beteken respek vir almal se regte – ook Afrikaanssprekendes. Ons veg nie vir bevoorregting nie; ons veg vir gelyke behandeling en respek vir ons kultuur en taal.

Solidariteit gaan aanhou veg – in die howe, in die parlement en op die strate. Want hierdie is nie net ’n stryd oor Afrikaans nie; dit is ’n stryd oor reg en geregtigheid.

Soos wat Lesufi se veldtog teen Afrikaans voortduur, gaan ons teenkanting ook sterker word. Solidariteit en die Afrikaanse gemeenskap het oor dekades heen bewys ons gaan nie toegee aan druk of intimidasie nie. Lesufi moet dit weet: Afrikaans gaan bly staan en ons gaan bly veg.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel