loading
Artikels
5 dae gelede
onderwysertragedie-dreig-weens-kleuterzone-saga

Foto Krediet: Pexels

Onderwysertragedie dreig weens Kleuterzone-saga

Die skielike ineenstorting van Kleuterzone het ’n landswye ontsteltenis veroorsaak, met honderde onderwysers en hul gesinne wat nou sonder inkomste en werksekerheid sit. Terwyl die stigter, Anthonie Bougas, stilbly oor die gebeure, het die Solidariteit Onderwysernetwerk begin om lede in hierdie finansiële en emosionele krisis by te staan. Lees meer hier.


Deur Heléne Mocke

Terwyl die stigter en direkteur van Kleuterzone, Anthonie Bougas, blykbaar ’n ontspanne vakansie in Thailand geniet, worstel tot honderde onderwysers en hul gesinne met die nagevolge van die skielike ineenstorting van dié kleuterskoolgroep. Wat eens ’n belowende en groeiende opvoedkundige onderneming was, het nou in ’n tragedie van verlore inkomste en ʼn onseker toekoms verander.

Onderwysers by dié kleuterskoolgroep, van wie talle ook lid is van die Solidariteit Onderwysernetwerk, word met hierdie ernstige probleme gekonfronteer.

Verlore inkomste lei tot situasies waar ouers noodgedwonge selfs hul huise moet opgee. Volgens Solidariteit is daar reeds ’n ernstige werkloosheidskrisis aan die ontwikkel, met talle lede wat nie weet waarheen om hulle te wend nie.

Solidariteit se Onderwysernetwerk het reeds begin om hul lede by te staan.

“Ons is in gesprek met die likwidateurs om seker te maak ons lede se eise word behoorlik ingedien,” sê Johan Botha van die Solidariteit Onderwysernetwerk wat talle onderwyserlede van Solidariteit in die aangeleentheid verteenwoordig.

“Dit gaan ’n lang, komplekse proses wees, maar ons gee nie moed op nie.”

Wat egter by baie mense skok en woede ontlok, is die stilte van Bougas self. Ten spyte van die enorme impak wat die sluiting van Kleuterzone op sy personeel, kliënte en gemeenskappe het, is daar volgens betrokkenes nog geen teken van aanspreeklikheid of selfs blote erkenning van die pyn en enorme geldelike skade wat sy optrede veroorsaak het nie.

Die saak het landswyd aandag getrek, met talle mense op sosiale media wat vra vir antwoorde – en geregtigheid. In die tussentyd probeer Solidariteit en ander rolspelers sin maak van die administratiewe nagmerrie waarin hul lede beland het.

“Ons wil alle onderwysers wat lede is van Solidariteit en deel was van Kleuterzone aanmoedig om dringend met ons kontak te maak, indien hulle dit nog nie gedoen het nie,” sê Solidariteit. “Elke stem, elke eis is belangrik. Ons is hier om saam deur hierdie donker tyd te beweeg.”

Die verhaal van Kleuterzone is ʼn goeie voorbeeld van hoe onverantwoordelike sakeleierskap ernstige nagevolge inhou vir meer as net die winsgewendheid van ʼn onderneming. Dit kan selfs in ʼn maatskaplike krisis vir geaffekteerde werknemers ontaard.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel