
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Afrikaans100 – jou gemeenskap, jou taal, jou kans
Die viering van Afrikaanse se 100ste bestaansjaar as ʼn amptelike taal, kortweg bekend as “Afrikaans100,” is ʼn mylpaal in Suid-Afrika en vir Afrikaanssprekendes. Daar is diegene wat wil beweer ons moedertaal is “dood”, maar hulle is verkeerd, want Afrikaans lééf, en jy kan in Afrikaans leer, werk en jou gemeenskap dien en uitbou. Lees meer!
Deur Karen Waldeck
In 2025 bereik Afrikaans ʼn historiese mylpaal – die taal vier sy 100ste bestaansjaar as amptelike taal. Hierdie mylpaal is meer as net ʼn taalviering; dit is ʼn geleentheid om ons gemeenskappe te versterk deur plaaslike talent te bevorder en ons jeug se toekoms te bou. Dit is egter so dat jong Afrikaanse werksoekers in Suid-Afrika verskeie struikelblokke in die gesig staar, soos beperkte geleenthede, voldoening aan rassevereistes en hoë verwagtinge. In die lig hiervan is dit veral belangrik dat besighede mense uit hul eie gemeenskap in diens te neem aangesien dit ekonomiese groei en samehorigheid van die gemeenskap bevorder en dit tot die besighede se voordeel strek.
Die waarde van plaaslike talent
“Plaaslik is lekker” is nie net ʼn gesegde nie; dit hou werklik voordele vir besighede en gemeenskappe in. Deur plaaslike talent in diens te neem, dra ondernemings by tot die ekonomiese groei van hul gemeenskappe en bevorder hulle ʼn kultuur van eendrag en ondersteuning. Hierdie helpmekaar-gemeenskapsbenadering skep ook ʼn lojale en toegewyde arbeidsmag.
Boonop verstaan plaaslike werknemers die kultuur, taal en dinamika van die gemeenskap, wat tot beter kommunikasie en kliëntediens lei. Dit verlaag ook indiensnemingskoste wat verband hou met die hervestiging en aanpassing van werknemers wat van elders aangestel is.
Uitdagings vir jong werksoekers
Jong mense in Suid-Afrika staar verskeie uitdagings in die gesig wanneer hulle die arbeidsmark betree. Werkloosheid onder die jeug is hoog, en dan is dit ook ʼn realiteit dat talle jong mense sukkel om geleenthede te vind waarvoor hul vaardighede en kwalifikasies geskik is. Voorts het sommige jong mense ook onrealistiese verwagtings oor hul eerste werk en verwag hulle om boaan die loopbaanleer te begin.
Dit is noodsaaklik dat die jeug leer dat geen werk minderwaardig is nie en dat sukses dikwels nederig begin. Deur hard te werk en ervaring op te doen, kan jong mense hulself opwerk en waardevolle lewenslesse leer.
Solidariteit se werkplatform – hoop in moeilike tye
Solidariteit het ʼn aanlyn Afrikaanse werkgemeenskap geskep wat daarop gemik is om die werkuitdagings wat lede van die Afrikaanse gemeenskap in die besonder ervaar, te takel. Hierdie platform bied ʼn ruimte waar werkgewers en werksoekers mekaar kan vind sonder dat rasvereistes geld en waar gelyke geleenthede dus vir almal geld.
Voordele vir besighede
- • Toegang tot ʼn poel van gekwalifiseerde plaaslike talent: Werkgewers kan poste adverteer en geskikte kandidate kan in hulle eie gemeenskap na werk soek en dit vind, wat die indiensnemingsproses vergemaklik.
- • Kostedoeltreffendheid: Deur plaaslike mense in poste aan te stel, bespaar besighede aan die koste wat verbonde is aan verhuising en ander uitdagings wat met langafstandwerwing te make het.
- • Versterking van die gemeenskap: Plaaslike indiensneming dra by tot die ekonomiese en sosiale welstand van die gemeenskap, wat weer ʼn positiewe uitwerking op die besigheid se reputasie het.
Voordele vir werksoekers
- • Geleenthede in hul moedertaal: Die platform bied poste by Afrikaanssprekende werkplekke wat dit makliker maak vir moedertaalsprekers om werk te vind waar hulle op hulle gemak kan wees.
- • Gelyke geleenthede: Danksy die feit dat rassevereistes nie vir werksgeleenthede op die platform geld nie, fokus die platform op vaardighede en kwalifikasies, wat ʼn regverdige werksomgewing bevorder.
- • Ondersteuning en ontwikkeling: Solidariteit bied hulpbronne en ondersteuning om jong mense te help om die nodige vaardighede te ontwikkel wat in die moderne arbeidsmark benodig word.
In ʼn wêreld waar tegnologie en outomatisering besig is om oor te neem, is dit belangrik om op die ontwikkeling van vaardighede te fokus wat in die toekoms benodig gaan word. Volgens die Wêreld- Ekonomiese Forum se “Future of Jobs Report” sal kritiese denke en probleemoplossing teen 2025 van die mees gesogte vaardighede wees. Deur ons jeug aan te moedig om hierdie vaardighede te ontwikkel en plaaslike geleenthede te benut, kan ons ʼn sterker en meer veerkragtige gemeenskap bou.
Kom ons gebruik die viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar as ʼn amptelike taal as ʼn beginpunt om ons jeug te bemagtig, plaaslike besighede te versterk en ʼn toekoms te skep waar almal kan floreer. Saam staan ons sterker. Deur saam te werk en mekaar te ondersteun, kan ons ʼn positiewe verskil in ons gemeenskappe en die lewens van ons jong mense maak.
Skep jou gratis profiel op Solidariteit en word deel van jou grootste aanlyn werkgemeenskap!