loading
Artikels
1 dag gelede
afrikaanse-musiek-is-die-klankbaan-van-n-taal-se-toekoms

Foto Krediet: OkayDeer

Afrikaanse musiek is die klankbaan van ʼn taal se toekoms

Afrikaans vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar as ʼn erkende taal – ʼn merkwaardige mylpaal wat nie net die afgelope eeu se ontwikkeling vier nie, maar ook vorentoe kyk na die toekoms. 21 Februarie is Internasionale Moedertaaldag en Solidariteit vier die rykdom van Afrikaans, asook die krag van taal om gemeenskappe te bind. Lees hier meer:


Deur Maryna Eksteen

Musiek het ʼn unieke vermoë om mense te verenig en ʼn gemeenskap se identiteit te versterk. Afrikaanse musiek het oor die dekades ontwikkel van volksliedjies tot rock, kletsrym en kontemporêre pop, maar ongeag die genre, vertel dit die stories van ons mense en hou dit Afrikaans relevant en vars.

Dink aan kunstenaars soos Laurika Rauch, Johannes Kerkorrel, Ruan du Toit en Spoegwolf – hulle het nie net treffers geskryf nie, maar ʼn hele generasie se emosies en ervarings in klank vasgevang. Daar is deesdae ʼn opbloei van Afrikaanse musiek met nuwe kunstenaars wat op kreatiewe maniere aan die taal uitdrukking gee. 

VIr Solidariteit isAfrikaanse musiek nie net ʼn vorm van vermaak nie – dit dra ook ʼn boodskap oor van trots, identiteit en selfstandigheid. Solidariteit het hierdie beginsel sterk beklemtoon in hul twee liedere: “Ons sal self” en “Jy hoort hier”. Hierdie liedere is meer as net note en lirieke; elke lied is ʼn manifes van ʼn gemeenskap wat sy toekoms self wil bou.

“Ons sal self” is ʼn oorwinningslied. Dit is ʼn herinnering dat Afrikaanse gemeenskappe nie afhanklik is van die staat om hul pad vorentoe te bepaal nie. Dit is ʼn verklaring van selfstandigheid en ʼn wekroep om vir mekaar op te staan. “Jy hoort hier” dra weerʼn sterk boodskap van tuiswees oor. Dit herinner elke Afrikaanse spreker dat hulle ʼn plek het waar hulle kan floreer, dat hulle stories saakmaak, en dat hulle deel is van iets groters as hulself.

As Afrikaans die vólgende 100 jaar nie net wil oorleef nie, maar wil floreer, is musiek een van die belangrikste maniere om dit lewendig te hou. Dit is hoe die jeug betrokke bly, hoe mense hul identiteit herontdek, en hoe die taal aanpas sonder om sy wese te verloor.

Elke Afrikaanse lied wat geskryf, gesing en gedeel word, is ʼn bousteen vir die taal se voortbestaan. Dit is ʼn bewys dat Afrikaans nie net ʼn geskiedenis het nie, maar ook ʼn toekoms.

Wanneer jy dus weer ʼn Afrikaanse lied hoor, moet jy besef dat jy nie net na musiek luister nie – jy luister na ʼn stuk geskiedenis én ʼn belofte vir die toekoms.

Vier vanjaar Afrikaans se honderdste verjaarsdag saam met Solidariteit. Klik hier om meer te lees oor Afrikaans100.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel