
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Agtergrond oor FlySafair-staking
Solidariteit se lede staak nie sommer nie. As 90% van ʼn maatskappy se sleutelpersoneel egter stem om te staak, dui dit op ʼn reusefout. FlySafair het hul vlieëniers vervreem. Die mandaat van die vlieëniers is oorweldigend, terwyl die maatskappy ʼn roekelose houding toon.
In plaas daarvan om die geskil op te los, het FlySafair nou oorlog teen hul vlieëniers verklaar deur hulle vir sewe dae uit te sluit. Dit beteken dat alle vlugte van FlySafair vir minstens die volgende week deur hulself ontwrig is. Gegewe die maatskappy se klipharde benadering, kan hierdie ʼn uitgerekte stryd word. Dit is presies wat ons nie wou hê nie.
Die vlieëniers het aanvanklik kennis gegee vir ʼn eendagstaking om FlySafair te dwing om te praat. Nou het FlySafair dit geëskaleer en sluit hulle die vlieëniers vir ʼn week uit. Die skuld vir ontwrigting lê vierkantig voor die maatskappy se deur.
Ironies genoeg is hierdie uitsluiting (“lock-out”) deur twee van FlySafair se mees senior bestuurslede aangekondig, wat onlangs meer as R90 miljoen deur aandeleverkope gerealiseer het – moontlik ten koste van dié lugredery se lisensievoorwaardes.
Die vlieëniers se frustrasie spruit uit die feit dat hulle salarisse nog nie herstel is ná Covid-verwante besnoeiings nie. Anders as ander personeel is hulle nog 10% agter. Hulle vra dus nie vir ʼn salarisverhoging nie, maar vir ʼn regstelling. FlySafair het ʼn uitstekende finansiële jaar agter die rug. Dit is nou ʼn goeie tyd om die Covid-agterstand reg te stel.
Ongelukkig vergelyk FlySafair se salarisse nie met internasionale en dié van plaaslike mededingers nie.
FlySafair het in 2024 meer vlieëniers verloor as die totale getal nuwe vlieëniers wat die land produseer. Dit wys daar is iets fout. Daardie fout moet reggestel word.
Omdat hierdie situasie nie deur die werkgewer bestuur is nie, loop dit nou uit op ʼn krisis wat sy kliënte kan ontwrig. Solidariteit doen ʼn beroep op FlySafair om op ʼn dringende basis onderhandelingstafel toe te kom. Ons moet die salarisregstelling bewerkstellig en vertroue herstel. Ons is 24 uur per dag beskikbaar.