loading
Artikels
5 uur gelede
toekomsberaad-vir-maatskaplike-werkers-van-krisis-tot-hoop

Foto Krediet: Solidariteit

Toekomsberaad vir maatskaplike werkers: van krisis tot hoop

Deur Kyla-Ann du Toit

“Hierdie Toekomsberaad is ʼn logiese volgende stap – van krisis na toekoms, van wanhoop tot hoop, van swakheid tot krag, van gister na môre. Dit is die enigste manier.”

Só sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, oor Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand se Toekomsberaad vir maatskaplike werkers wat op 18 Julie 2025 plaasgevind het. Hierdie beraad volg ná ʼn krisisberaad in 2024, waar rolspelers in die maatskaplike sektor byeengekom het om die struikelblokke in dié bedryf te identifiseer en te bespreek.

Die doel van die Toekomsberaad

Dit is geen geheim dat die staat nie sy verantwoordelikhede nakom nie en dus nie ʼn oplossing is nie. Intussen staan maatskaplike werkers in Suid-Afrika voor enorme uitdagings en risiko’s. Hierdie sektor is in wese ʼn nooddiens, wat dit van kardinale belang maak om dringend volhoubare oplossings te vind.

Daarom het Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand ʼn Toekomsberaad aangebied wat daarop gemik was om maatskaplike uitdagings met praktiese, volhoubare oplossings aan te pak op grond van data wat tydens die krisisberaad geïdentifiseer is. Dit sluit in die ontwikkeling van strategieë vir die implementering en die bevordering van gemeenskapsamewerking deur ʼn netwerk vir die uitruil van beste praktyke.

Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand besef dat daar ʼn groeiende krisis in die maatskaplike sektor ontstaan weens die min tot geen staatshulp wat dié sektor ontvang. Daarom is daar ʼn strategiese plan tydens die beraad bekendgestel om volhoubare voorspoed te verseker sonder afhanklikheid van die staat. Lees die volledige plan hier.

“Ons het verlede jaar die krisisse geïdentifiseer en vanjaar bou ons aan die toekoms. Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand is juis vandag hier om die gemeenskap te bemagtig om hierdie toekomsplan te implementeer,” sê Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk. “Die taakspanne het koppe bymekaargesit en verskeie aanbevelings gemaak, waaruit ʼn plan saamgestel is. Die verantwoordelikheid is ongelooflik groot, maar die realiteit is dat die rede soveel groter is.”

Die program

Die Toekomsberaad het ʼn verskeidenheid sprekers ingesluit. Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het die formele program afgeskop deur sy Afrikanerverslag te bespreek. Hierdie verslag verwys na die statistieke van die Afrikanergemeenskap en werp lig op hoe die breër ekonomiese klimaat gesinne en hul vermoë om te oorleef direk beïnvloed. Smit het daarna die toekomsplan en die doel daarvan amptelik bekendgestel.

Noëth het die gehoor toegespreek oor hoe ons geroep is vir ʼn tyd soos hierdie en hoe ons saam aan die oplossing moet werk. Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het ook die geleentheid gekry om te gesels oor hoe jy jou denkwyse kan verander om ʼn wêreld anderkant die staat te vind. Daarna het Adv. dr. Llewelyn Curlewis ook die geleentheid gekry om wetgewing te bespreek wat relevant tot die maatskaplike sektor is.

“Ons kan nie wag dat iemand anders die werk doen nie. Ons kan nie die verlede herleef nie. Ons ken nie die toekoms nie. Maar ons het vandag – die mense én die gawes. Vandag sê ek vir die mense dat julle geroep is vir ʼn tyd soos hierdie – leef jou roeping voluit!” sê Noëth.

Ná ʼn heerlike middagete het Marieta Kemp gesels oor hoe nieregeringsorganisasies (NRO’s) hul sakemodelle kan aanpas, en Heinrich Hurter het praktiese riglyne gedeel oor hoe om NRO’s doeltreffend te bemark. Die program is afgesluit met ʼn interaktiewe vraag-en-antwoordsessie, waartydens deelnemers vrae aan die paneel kon stel en onsekerhede kon bespreek.

ʼn Brug tussen dienste en gemeenskap

Hierdie toekomsplan het ten doel om ʼn brug tussen doeltreffende maatskaplike dienste en die gemeenskap te bou. Die staat het egter ook ʼn verantwoordelikheid om hierdie brug te help bou en daarom sal Solidariteit aanhou om druk op die owerhede uit te oefen om hul verpligtinge na te kom.

As ʼn gemeenskap kan ons hierdie plan gebruik om sáám ʼn sterker en meer selfstandige maatskaplike sektor te bou. Só kan ons ʼn toekoms van hoop skep waar maatskaplike werkers die nodige ondersteuning ontvang om hul dienste met selfvertroue te lewer, toegerus met waardevolle hulpbronne en netwerke.

“Rolspelers in die maatskaplike sektor het vandag hier bymekaar gekom en gevra ‘hoe lyk die toekoms van hierdie sektor?’ En dít is teen die agtergrond van ʼn staat wat ongelooflike druk op die sektor plaas deur nie subsidies te betaal nie,” sê dr. Hermann. “Maar nou is die vraag: Hoe lyk die toekoms anderkant die staat? Afrikaners het ʼn ryk geskiedenis van hoe om dit te doen. Dit is vir ons ʼn baie mooi voorbeeld vir wat ons nóú ook kan doen.”

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk is reeds ʼn gevestigde beroepsnetwerk en ʼn veilige hawe vir maatskaplike werkers. Klik hier vir meer inligting en sluit vandag nog by jou beroepstuiste aan!

Ons bou aan ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir die gemeenskap. Bou jy saam?

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel