loading
Mediaverklarings
5 uur gelede
flysafair-topbestuur-verklaar-oorlog-teen-vlieeniers-en-die-publiek-terwyl-flysafair-base-miljoene-in-die-sak-steek

Foto Krediet: Okay Deer

FlySafair-topbestuur verklaar oorlog teen vlieëniers en die publiek – terwyl FlySafair-base miljoene in die sak steek 

Terwyl Solidariteit kennis gegee het van ʼn eendagstaking op Maandag 21 Julie – juis om die ontwrigting vir die publiek tot ʼn minimum te beperk – het FlySafair in sy reaksie tot die drastiese stap oorgegaan om ʼn opeenvolgende uitsluiting (“lock-out”) van sewe dae van hul vlieëniers aan te kondig. Hierdie stap dui daarop dat die lugredery doelbewus ʼn verlengde en destabiliserende konflik verkies, wat moontlik met ʼn verdere sewe dae verleng kan word indien Solidariteit en sy lede nie aan die bestuur se omstrede eise voldoen nie. Dit beteken dat geen vlugte vir die volgende twee weke verseker kan word nie.

 Ironies genoeg is hierdie uitsluiting (“lock-out”) aangekondig, terwyl twee van FlySafair se mees senior bestuurslede, die uitvoerende hoof, Elmar Conradie en die hoof- finansiële beampte, Pieter Richards, volgens mediaberigte onlangs oor die R90 miljoen te gelde gemaak het deur aandele te verkoop – moontlik ten koste van FlySafair se lisensievoorwaardes. Intussen bevind FlySafair hom in ʼn uiters gunstige finansiële posisie, en die rykdom van hierdie individue en aandeelhouers is grotendeels te danke aan die vlieëniers wat elke dag passasiers onder toenemend ongunstige werksomstandighede vervoer.  Wat dit meer kommerwekkend maak, is dat die meerderheidsaandeelhouers boonop internasionale aandeelhouers is. Internasionale rolspelers maak dus enorme winste op die rug van Suid-Afrikaanse vlieëniers.

 In reaksie op die maatskappy se aggressiewe optrede het Solidariteit besluit om die aanvanklik beplande eendagstaking tot 14 dae te verleng. Ongelukkig beteken dit dat passasiers oor die volgende twee weke ontwrig gaan word. Die realiteit is egter dat 88% van FlySafair se vlieëniers ten gunste van die staking gestem het. Dit beteken dat bykans 9 uit 10 vlieëniers nie meer bereid is om onder die huidige werksomstandighede te bly werk nie – ʼn skokkende weerspieëling van personeelontevredenheid binne die maatskappy.

 Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het die partye reeds genader om bemiddeling te fasiliteer. Solidariteit het tot die proses ingestem, maar FlySafair het tot op hede nog nie daarop gereageer nie.

 In die lig van ʼn wêreldwye tekort aan vlieëniers en die voortgesette uittog van Suid-Afrikaanse vlieëniers na die buiteland, was hierdie onderhandelinge ʼn geleentheid om talent te behou en verhoudinge te herstel. In plaas daarvan het FlySafair se bestuur die keuse uitgeoefen om hul eie vlieëniers af te wys – met die duidelike boodskap: “Julle kan maar gaan vlieg!”

 Solidariteit betreur die ongerief wat die staking vir passasiers mag inhou, maar beklemtoon dat hierdie optrede nie spruit uit onredelike eise nie, maar uit maande lange frustrasie oor ʼn gebrek aan billike behandeling, onvoldoende en onreëlmatige rustydperke, ʼn gesonde balans tussen werk en gesinslewe en regverdige vergoeding.

 Intussen stroom steun vir die FlySafair-vlieëniers van oor die lugvaartbedryf in– met vlieëniers van ander lugrederye en verskeie internasionale beroepsorganisasies wat begrip toon vir hul situasie en solidariteit met hulle betoon.

 Die gevolg is – FlySafair het sy reputasie as een van Suid-Afrika se mees betroubare lugrederye ernstig geskaad.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel