Foto Krediet: Verskaf: Aitsa
Gekopieër
Aitsa 2025: ʼn Glansryke viering van Afrikaanse musiek
Deur Leré Nel
Die rooi tapyt is uitgerol en die wenners in elke kategorie is aangekondig! Op 5 November 2025 het die room van Afrikaanse musiekkunstenaars vir die sesde Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings bymekaargekom, en Solidariteit het die voorreg gehad om een van die borge van hierdie glansgeleentheid te wees. Die Aitsas, wat sedert 2019 die grootste bydraers tot Afrikaanse musiek vereer, het vanjaar weer gewys waarom dit as een van die mees gesogte vieringe van Afrikaanse musiektalent beskou word.
ʼn Nuwe, unieke benadering
Volgens Révan Luüs, projekbestuurder van die Aitsas, was vanjaar se geleentheid anders as al die vorige jare – ʼn produksie wat nie net op die verhoog nie, maar ook op die groot skerm lewendig geword het. “Hierdie jaar se Aitsas was nie net ʼn toekenningsgeleentheid nie; dit was ʼn viering van kuns, passie en ongelooflike talent,” sê Luüs. Hy het saam met Reynardt Hugo, Christian Wolf en Desiré Gardner ʼn kreatiewe span gevorm wat die Aitsas in ʼn vars formaat opgeneem het.
Die hart van Afrikaans op die verhoog
Die doel van die Aitsas bly steeds dieselfde: om ʼn onafhanklike platform te skep waar kunstenaars, liedjieskrywers en vervaardigers erken word vir hul uitmuntende bydraes tot Afrikaanse musiek. Hierdie jaar is twee nuwe kategorieë – “Sokkieliedjie van die Jaar” en “Klankbaan vir ʼn film of TV-produksie” – bygevoeg ter viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar.
ʼn Hoogtepunt van die aand was die huldeblyk aan Anton Goosen, die legendariese “liedjieboer”, wat in sy tagtigste lewensjaar bekroon is vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek. Goosen se werk oor meer as vyf dekades het hom diep in die volk se hart ingeburger as een van die vernaamste kunstenaars in die Afrikaanse musiekbedryf.
ʼn Ervaring om te vier
Lindie de Beer, hoof van Bemarking en Kommunikasie by Solidariteit, het die geleentheid bygewoon. Sy beskryf die Aitsas as “ʼn aand vol styl, humor en verrassings”.
“Dit is natuurlik altyd lekker om almal se pragtige uitrustings, rokke, grimering en hare te sien,” vertel sy. “Maar wat dit hierdie jaar ekstra spesiaal gemaak het, was die manier waarop dit in ʼn TV-reeksformaat verpak is. Dit was baie goed gedoen – mense kan uitsien om dit op VIA te gaan kyk!”
Volgens De Beer het die meeste van die kunstenaars gesê dit gaan nie vir hulle oor die pryse nie, maar oor erkenning vir die harde werk om Afrikaans in die musiekbedryf lewendig te hou.
“Die Aitsas het oor die afgelope ses jaar regtig ʼn prestige-toekenning geword, en ek dink dis wonderlik dat Afrikaans só in die musiekbedryf vereer word. Aande soos hierdie motiveer kunstenaars om aan te hou skep en laat hulle voel dat hul werk waardeer word.” sê sy.
Skakel in en vier saam!
Ons gaan nie die wenners op hierdie platform verklap nie… maar danksy vanjaar se unieke formaat, kan almal nou deel wees van die ervaring! Skakel vanaand om 19:30 in op VIA, kanaal 147 op DStv.