Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
14 uur gelede
solidariteit-gaan-met-regerings-van-sa-en-vsa-praat-oor-ondersoek-na-arbeidspraktyke

Foto Krediet: ChatGPT

Solidariteit gaan met regerings van SA en VSA praat oor ondersoek na arbeidspraktyke

Solidariteit gaan dringend met die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings in gesprek tree oor diskriminerende arbeidspraktyke. Dit volg nadat die VSA se handelsverteenwoordiger aangekondig het dat verskeie lande, insluitend Suid-Afrika, tans ondersoek word vir beweerde dwangarbeid en diskriminerende praktyke.

Die ondersoek, ingevolge artikel 301 van die VSA se Handelswet kan daartoe lei dat alle handel met Suid-Afrika opgeskort word indien bewyse van die beweerde wandade gevind word. Nog ʼn moontlike uitkoms is die instel van hernude hoë invoertariewe op Suid-Afrikaanse goedere, wat ook baie nadelig vir Suid-Afrika sal wees.

Gegewe die reeds hoë vlakke van werkloosheid en werksverliese wat sedert Augustus verlede jaar, toe die VSA die eerste keer tariewe op Suid-Afrikaanse goedere ingestel het, voorkom, is Solidariteit baie bekommerd oor die gevolge van hierdie ondersoek vir gewone Suid-Afrikaanse werkers wat in verskeie sektore werksaam is en tans sterk afhanklik is van uitvoere na die VSA.

Solidariteit is ook bekommerd dat daar ʼn wesenlike moontlikheid is dat Amerikaanse ondersoekers Suid-Afrika skuldig kan bevind aan veral diskriminerende praktyke wat met rassewetgewing in die werkplek verband hou.

So ʼn bevinding kan tot onmiddellike ekonomiese strafmaatreëls lei.

Volgens ʼn kennisgewing van die Verenigde State se handelsverteenwoordiger is artikel 301 van die Handelswet van 1974 ontwerp om onbillike buitelandse praktyke wat Amerikaanse handel raak, aan te spreek. Dit kan daartoe lei dat uitvoere van ʼn land wat skuldig bevind word, opgeskort word of dat ander stappe, soos die instel van tariewe, teen so ʼn land geneem word.

Die Amerikaanse regering het reeds in die verlede aangedui dat swart ekonomiese bemagtiging ʼn handelsbeperking daarstel en die nuwe Amerikaanse ambassadeur het bekommernisse hieroor so onlangs soos verlede week herhaal.

Nuwe regulasies, wat onlangs deur die parlement goedgekeur is en wat aan die minister van arbeid en indiensneming ingrypende nuwe magte gee om rassekwotas vir bedrywe vas te stel, sal waarskynlik ook aan die definisie van diskriminerende praktyke voldoen.

Solidariteit beplan om so gou as moontlik met die minister van handel en nywerheid in gesprek te tree om plaaslike oplossings te vind. Ongeag die VSA se ondersoek, is die rassekwotas ingevolge die Diensbillikheidswet nadelig vir Suid-Afrika en Suid-Afrikaners. Solidariteit sal ook met die VSA in gesprek tree sodra gesprekke met die Suid-Afrikaanse regering afgehandel is.

Suid-Afrika se diskriminerende arbeidspraktyke is strydig met internasionale konvensies, soos bevestig in die skikking wat Solidariteit en die regering onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) onderhandel het. Deur daarmee vol te hou, stel die regering Suid-Afrika aan talle handelsrisiko’s bloot deurdat dit belangrike vennote soos die VSA en Europa vervreem.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel