Foto Krediet: ChatGPT
Gekopieër
Madlanga-kommissie beeld groot krisis in SAPD in volkleur uit
Deur Robin-Lee Maré
Weke se getuienis voor die Madlanga-kommissie van ondersoek begin ʼn ontstellende prentjie van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) blootlê. Nuwe getuies, hoëvlak-ontledings, skorsings en voorbereidings vir moontlike strafregtelike optrede volg mekaar vinnig op.
Saam skets dié verrigtinge ʼn beeld van korrupsie, interne verval en moontlike sindikaat-infiltrasie binne die SAPD.
President Cyril Ramaphosa het onlangs die sperdatum van die kommissie van ondersoek met ses maande tot Augustus verleng. Die kommissie se verslag sal egter nie dadelik bekend gemaak word nie.
Suid-Afrikaners het intussen ook geleer om nie te hoë verwagtinge van vinnige vervolging te koester wanneer sulke bevindinge uiteindelik bekend gemaak word nie. Dit maak egter nie die getuienis voor oudregter Mbuyiseli Madlanga minder skokkend nie.
Volgens Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut (SNI), bevestig die kommissie lank bestaande vrese oor die toestand van die SAPD.
“Die werklikheid is dat hardwerkende konstabels en speurders op grondvlak vir jare deur hul topbestuur in die steek gelaat is,” sê Mulder. “Swak bestuur het hulle dikwels in onmoontlike situasies geplaas waar misdaad doeltreffend beveg moes word sonder die nodige ondersteuning.”
Die kommissie het onlangs sy sittings hervat met nuwe getuies. In sommige gevalle word getuies se identiteite eers minute voor hul verskyning bekend gemaak weens ernstige veiligheidsrisiko’s. Volgens Mulder illustreer hierdie werkwyse die gevaarlike omstandighede waarin ondersoeke plaasvind.
Terselfdertyd het die SAPD begin optree teen beamptes wat tydens verrigtinge geïmpliseer is. Volgens Fannie Masemola, nasionale kommissaris van die SAPD, is vyf SAPD-lede formeel vir ondersoek geïdentifiseer. Een lid is reeds geskors, terwyl nog vier kennis van voorgenome skorsing ontvang het. Dissiplinêre prosesse is reeds ver gevorder, met verdere sake wat nog oorweeg word.
Mulder beskryf hierdie ontwikkeling as ʼn noodsaaklike stap, maar beklemtoon dat die groter probleem veel dieper strek.
“Wat die Madlanga-kommissie uitwys, is dat vrese oor die toestand van die SAPD nie net geregverdig is nie, maar dat die verrotting baie dieper lê as wat baie mense besef het,” sê hy. “Dit bly ʼn skande en ʼn klap in die gesig van elke hardwerkende SAPD-lid wat werklik sy of haar bes probeer doen.”
Die ondersoek fokus ook op ernstige aantygings wat deur Nhlanhla Mkhwanazi gemaak is oor beweerde korrupsie en politieke inmenging binne die SAPD.
Volgens Mkhwanazi se bewerings word senior rolspelers in die nasionale polisieleierskap geïmpliseer, insluitend die polisieminister, Senzo Mchunu, en die adjunk-nasionale polisiekommissaris vir misdaadopsporing, Shadrack Sibiya. Die aantygings hou verband met beweerde beskerming van georganiseerde misdaadnetwerke en moontlike inmenging in sensitiewe ondersoeke.
Die ondersoek kyk ook na die rol van berugte misdaadfigure, onder meer die sogenaamde “Big Five”-gangsters in KwaZulu-Natal. Onder hulle tel die onderwêreldfiguur, Vusimuzi “Cat” Matlala, wat na bewering met sekere polisiestrukture verbind word. Die saak het groot politieke en institusionele implikasies, aangesien dit vrae laat ontstaan oor korrupsie, magsmisbruik en die onafhanklikheid van misdaadondersoeke binne die SAPD.
Die SAPD het intussen ʼn gespesialiseerde taakspan saamgestel om ondersoeke te versnel. Senior speurders, intelligensie-ontleders, forensiese kundiges en ʼn toegewyde aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV) vorm deel van dié span. Die doel is om ondersoeke te versterk en moontlike strafregtelike verrigtinge te ondersteun.
Mulder meen sterker samewerking tussen ondersoekliggame bied hoop vir groter aanspreeklikheid binne die SAPD.
Die verrigtinge plaas ook die kollig op die moontlike omvang van georganiseerde misdaad se invloed binne wetstoepassing. Geweld, intimidasie en selfs sterftes van persone wat met ondersoeke verbind word, versterk volgens ontleders die beeld van ʼn diens wat onder ernstige interne druk funksioneer.
Mulder glo dat gewone polisiebeamptes beter van hul leierskap behoort te verwag.
“Die gemiddelde SAPD-lid kan en moet beter van sy of haar topbestuur verwag,” sê hy. “Daar is duisende beamptes wat elke dag hul werk eerlik probeer doen. Hulle verdien bestuur wat hul werklik ondersteun.”
Volgens Mulder dui skorsings, ondersoeke en sterker betrokkenheid van aanklaers op ʼn moontlike keerpunt. Hy spreek die hoop uit op uiteindelike werklike hervorming deur die huidige proses.
“Hopelik lei hierdie proses tot daadwerklike aksie wat ʼn vernuwing in die SAPD bring,” sê hy. “Eers wanneer konstabels en speurders op grondvlak behoorlike ondersteuning van hul bestuur en veral van topbestuur ontvang, kan Suid-Afrikaners weer hul vertroue in die SAPD begin herstel.”