loading
avatar
Mediaverklarings
9 uur gelede
solidariteit-se-bankkosteverslag-dui-op-sterk-mededinging-tussen-banke

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit se bankkosteverslag dui op sterk mededinging tussen banke

Banke in Suid-Afrika raak toenemend mededingend wat hul koste betref en hulle brei ook hul waarde-aanbod verder uit as blote tradisionele bankdienste. Dít blyk uit die jongste ontleding in Solidariteit se 2026-bankkosteverslag wat aantoon dat verskillende banke, na gelang van die betrokke kategorie, die beste waarde vir verbruikers bied.

Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut, bly banke onder druk om hul koste te verlaag én om terselfdertyd ook bykomende voordele aan kliënte te bied.

“Die banke raak toenemend mededingend wat hul bankkoste betref, en hulle gaan ook voort om hul waarde-aanbod verder as net eenvoudige finansiële dienste uit te brei,” sê Du Buisson.

In die middelklaskategorie bly Capitec Bank volgens die ontleding die goedkoopste opsie vir verbruikers. Du Buisson verduidelik egter dat ander banke se beloningsprogramme ook ʼn rol kan speel in die totale waarde wat kliënte uit hul rekeninge kry.

“Middelklasverbruikers sal die minste by Capitec betaal, maar indien die voordele van ander banke se beloningsprogramme vir dié verbruikers van waarde is, kan Nedbank se MiGoals-rekening, met ʼn totale koste van ongeveer R123 vir ons transaksiemandjie, die goedkoopste wees,” sê hy.

“Onder die bondelrekeninge is Nedbank ook die goedkoopste, met ʼn maandelikse administrasiefooi van R99 teenoor Absa se R115 en die R120 van Standard Bank en FNB.”

In die laekostekategorie het Absa se Transact-rekening vanjaar weer die goedkoopste gebly, met ʼn koste van sowat R25 in die 12-transaksie-kategorie. Capitec volg in die tweede plek met ongeveer R35. Wanneer transaksievolumes egter toeneem, raak die mededinging tussen Absa en Capitec aansienlik strawwer, met Absa steeds effens goedkoper teen ongeveer R44 teenoor Capitec se R50,50.

In die premium-kategorie is Nedbank se MiGoals Premium-rekening volgens die ontleding ook die goedkoopste, met ʼn totale koste van ongeveer R262. Absa se Ultimate Plus-rekening volg kort op sy hakke met ʼn totale koste van sowat R273,50.

Du Buisson sê die ontleding het vanjaar ook gefokus op die bykomende waarde wat banke aan kliënte bied, veral voordele wat vir alle rekeninghouers beskikbaar is en nie van ʼn beloningsprogram se vlak afhanklik is nie.

“In die goedkoper kategorie is dit moeilik om te bepaal watter een van die twee rekeninge, Absa se Transact-rekening of FNB se Easy PAYU-rekening, die meeste waarde vir kliënte bied,” sê Du Buisson. “Absa sluit byvoorbeeld R5 000 se lewensdekking by die maandelikse administrasiefooi van R7,50 in. FNB Easy PAYU, wat ook R7,50 kos, bied weer vier brode teen 99c per maand en ʼn relatief eenvoudige manier om ʼn R25 Pick n Pay-koopbewys maandeliks te ontsluit.”

In die middelklas- en premium-kategorieë is banke se waarde-aanbiedinge volgens Du Buisson relatief soortgelyk, hoewel sekere voordele uitskieters is. “Absa onderskei hom hier deurdat hy R100 000 se lewensdekking by sowel sy Ultimate- as Ultimate Plus-rekeninge insluit. Sulke bykomende voordele speel ʼn toenemend belangrike rol wanneer verbruikers besluit by watter bank hulle hul banksake wil doen,” sê hy.

Solidariteit moedig verbruikers aan om nie net na maandelikse bankkoste te kyk nie, maar ook na die totale waarde wat ʼn rekening bied, insluitend beloningsprogramme, versekering en ander voordele wat deel vorm van die pakket.

  • Sien die bankkosteverslag vir 2026 hier.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel