Foto Krediet: Gemini
Gekopieër
Solidariteit oorhandig verdoemende SEB-kosteverslag ook aan VSA-ambassadeur
Solidariteit het vandag ʼn verslag aan die kantoor van die nuwe Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Leo Brent Bozell III, oorhandig waarin die verwoestende impak van Suid-Afrika se rassebeleid op die land en sy mense duidelik uiteengesit word.
Dit volg ná Bozell die afskaffing van hierdie beleid gister tydens ʼn toespraak in die Wes-Kaap as een van vyf voorwaardes uitgelig het, wat die VSA-regering aan die Suid-Afrikaanse regering gestel het. Daar is na meer as ʼn jaar steeds geen ag daarop geslaan nie.
Bozell het gesê president Donald Trump van die VSA se geduld met die gebrek aan optrede raak intussen uitgeput.
In Solidariteit se verslag word die impak op Suid-Afrika duidelik uiteengesit en die koste van nakoming van breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) word tans bereken as tussen R145 en R290 miljard per jaar of tussen 2% en 4% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP).
Die verslag, wat ook verlede jaar tydens ʼn Solidariteit-besoek aan Washington aan die VSA-administrasie oorhandig is, wys hoe dié beleid Suid-Afrika tot 192 000 werksgeleenthede per jaar kos.
Volgens Theuns du Buisson, opsteller van die verslag en ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), is dit duidelik dat hierdie beleid ook een van die groot redes is waarom daar ʼn toenemende diplomatieke skeuring tussen Suid-Afrika en die VSA is.
“Die rassewette is sleg vir werkskepping, die ekonomie en vir beleggersvertroue. Die rassewette word slegs deur die regering op die wetboek gehou ter wille van ʼn klein groepie rykes.
“Boonop is die VSA se boodskap dat sy sakelui in Suid-Afrika wíl belê, maar dat rassewette dit soos ʼn handelsbeperking kniehalter. Net soos miljoene Suid-Afrikaners wil Amerikaners nie ʼn premie betaal om kaders en rykes verder te verryk nie,” sê Du Buisson.
Solidariteit dui verder aan hoe die koste van rassewette só groot is dat die implementering daarvan ongelykheid in die land vergroot.
Die uitfasering van rassewette sal ekonomiese verligting vir Suid-Afrika bring, beleggersvertroue vergroot en ʼn nuwe vlaag van Amerikaanse beleggings fasiliteer.
Jaco Kleynhans, hoof van openbare en internasionale skakeling by Solidariteit, sê terwyl Bozell se uitlatings ʼn wekroep vir die Suid-Afrikaanse regering behoort te wees, is die onmiddellike reaksie van die grootste party in die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) maar weereens vyandig.
“Bozell se vyf eise aan die Suid-Afrikaanse regering is hoegenaamd niks nuut of selfs buitengewoon omstrede nie. Tog is die eerste reaksie van die ANC se Fikile Mbalula hoe die regering weier om enigsins na die VSA rakende beleidsbesluite te luister. Boonop word die EFF bloot toegelaat om die ambassadeur te beledig deur te eis dat hy uit Suid-Afrika geskop word.
“Dit word gou duidelik vir die Amerikaanse ambassade en vir ambassadeur Bozell dat die ANC hoegenaamd nie Amerikaanse belange wíl en gáán dien nie. En uit Solidariteit se verslag is dit duidelik hoe die ANC beslis ook nie Suid-Afrikaanse belange dien nie,” sê Kleynhans.
Solidariteit hoop die ambassadeur sal sy druk oor rassewette en SEB-beleid voortsit aangesien Suid-Afrikaners se geduld daarmee ook lankal reeds op is.