![akademia-bou-jou-toekoms-hier](https://cms.solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2024/08/Promo-Facebook-Facebook-image-post-2024-08-01T141905.530.jpeg)
Foto Krediet: Akademia
Gekopieër
Akademia: Bou jou toekoms hier!
Deur Ané Janse van Rensburg
Ad futurum per fontes – Na die toekoms, deur die bronne. Akademia staan al sedert 2011 stewig gegrond op waarheid, goedheid en skoonheid, geloof, hoop en liefde, rentmeesterskap, pionierskap en verbondenheid.
Die Solidariteit Beweging heg groot waarde aan kwaliteit onderrig en dit vorm die Toekomsbouer–veldtog se fondasie. Dit lei daartoe dat instellings soos Akademia gebou kan word om Afrikaanse studente ʼn plek te gee waar hulle hoort!
Die eiendomsontwikkelingsmaatskappy Kanton Beleggings het met groot opgewondenheid die nuwe kampusontwikkeling van Akademia in Pretoria onthul as deel van hul Toekomsbouer-veldtog. Hierdie kampus is nie net die grootste projek wat nóg in die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe aangepak is nie, maar dit is ook ʼn merkwaardige mylpaal wat verseker dat hoër onderwys in Afrikaans sal floreer ten spyte van verskeie aanslae daarop.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging het jare gelede al gedroom van ʼn Afrikaanse tuiste waar studente in hul taal hul toekomsdrome kan najaag. Hieroor sê hy: “Ons het al baie lank nie net hieroor gedroom nie, maar ook gedink en gedoen. Ek is baie beïndruk met Akademia wat al só goed gevorder het en dat ons nou al begin dink en werk aan ʼn nuwe kampus.”
Hierdie residensiële kampus in die ooste van Pretoria sal teen 2028 voltooi word. Dit sal 5 000 voorgraadse en 2 000 nagraadse studente kan akkommodeer, met koshuisverblyf vir 1 500 studente.
“Die nuwe kampus is die verwesenliking van ’n groot droom. Dit vereis die krag van ’n belynde gemeenskap wat deur eensgesindheid en samewerking die oënskynlik onmoontlike kan verwesenlik,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia. Visser sê verder dat die Toekomsbouer-veldtog die gemeenskap oproep om deel te word van ’n ongelooflike geleentheid – iets soos wat die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe nie in ’n geruime tyd beleef het nie.
“By Akademia is ons verbind tot die vormingsideaal en sluit ons aan by die klassieke universiteitswese. Die vormingsideaal het ten doel om studente as volronde mense te help vorm wat insluit om hulle te leer dat hulle die geheel en die verband tussen verskillende dissiplines raaksien. Dit word gedoen deur hulle onder andere bloot te stel aan ʼn belowende buitekurrikulêre studenteprogram, hulle deel te maak van ʼn oop gesprek en hulle uit te daag om in verwondering te staan tot die goeie, die skone en die ware,” sê Venter.
Akademia het groot planne vir die toekoms, onder andere om hul programme wat aangebied word ook verder uit te brei. In 2024 gaan 24 nuwe programme ingedien word vir akkreditasie by die Raad op Hoër Onderwys. ʼn Innoverende strategie vir hul sentrums sal ook vanaf 2024 in werking tree om gemeenskapsbetrokkenheid te bevorder en hul vormingsideaal te versterk.
Om hierdie droom te bewaarheid, gaan dit die krag van ʼn gemeenskap verg wat saamstaan en uiteraard saambou — een wat deur eensgesindheid en samewerking in staat is om selfs die oënskynlik onmoontlike te bereik.
Solidariteit het ten doel om die toekoms van ons kinders te verseker deur kennisinstellings te bou. Só vat Solidariteit hande saam met instellings soos Kanton Beleggings en Akademia om jong Suid-Afrikaners se toekomsdrome vlerke te gee. Ad futurum per fontes – Na die toekoms, deur die bronne. Jy hoort hier!