Foto Krediet: Verskaf | Akademia | Kanton
Gekopieër
Akademia: ʼn Toekomsbouer vir ʼn veilige en hoopvolle toekoms
Deur Robin-Lee Maré
Wanneer die tyd aanbreek om jou kind universiteit toe te stuur, is elke ouer se grootste wens om dit met ʼn geruste hart te kan doen.
Akademia, ʼn Afrikaanse hoëronderwysinstelling en deel van die Solidariteit Beweging, verstaan hierdie ouerhart. Sedert sy ontstaan in 2011, streef Akademia daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar denke en hart gevorm word, met die oog op ʼn vry en voorspoedige toekoms.
Kanton bou ʼn kampus van wêreldgehalte
Die Akademia-kampusprojek is die grootste projek wat tot dusver deur die Afrikaanse gemeenskap sonder staatshulp aangepak is sedert die bou van die Voortrekkermonument.
- • R3 miljard + word gewerf om die hele projek te voltooi.
- • R1,8 miljard is nodig om fase 1 van die projek te voltooi.
- • 220 hektaar is opsygesit vir ontwikkeling.
- • 2028 open die kampus sy deure in die ooste van Pretoria.
- • 5 000 voltydse voorgraadse studente word verwelkom.
- • 1 500 inwonende studente vir wie koshuisgeriewe gebou gaan word.
Verbondenheid aan die gemeenskap
As ʼn gemeenskapsinstelling is Akademia verbind tot die eie gemeenskappe terwyl dit terselfdertyd goeie verhoudinge met ander gemeenskappe nastreef. Hierdie verbondenheid word deur vriendskap, geregtigheid en oop gesprek gekenmerk. Akademia bou voort op die goeie en die skone wat uit die verlede oorgedra is, met die doel om dit aan toekomstige geslagte oor te dra.
Akademia en Kanton: ʼn Toekoms vol hoop
Die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal aan openbare universiteite regoor Suid-Afrika is toenemend onder druk. Dit beklemtoon die groeiende noodsaaklikheid vir ʼn uitnemende hoëronderwysinstelling in Afrikaans, soos Akademia. Akademia se kampusprojek sal deur ʼn kombinasie van lenings, beleggings en skenkings vanaf die gemeenskap befonds word. Alhoewel die eerste stene eers in 2026 gelê word, kan lede van die publiek vandag reeds help met die uitbou van die instelling deur skenkings aan Akademia.
Waarom het ek hoop?
Ek het hoop omdat instellings soos Akademia ʼn platform aan ons gemeenskap bied om ʼn beter toekoms te bou. Akademia skep nie net akademiese geleenthede nie; dit bied ook ʼn tuiste waar kinders in hul moedertaal kan studeer en gevorm word tot gebalanseerde, verantwoordelike individue. Die instelling se verbintenis tot waardes, kennis en wysheid verseker dat ons jong mense ʼn blink toekoms tegemoet kan gaan.
Akademia is ʼn ligbaken in ʼn onsekere wêreld. Dit gee my gemoedsrus en laat my glo dat my kinders hul potensiaal in ʼn veilige, waardegedrewe en hoopvolle omgewing kan bereik.