
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Al meer jong mense voel uitgebrand
Deur Nico Strydom
Uitbranding is aan die toeneem, en volgens onlangse navorsing is jonger mense veral vatbaar daarvoor.
Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag) skat dat soveel as een uit elke drie werknemers in die land deur uitbranding geraak word – ʼn toestand wat aan voortdurende, onbeheerde stres gekoppel is.
Uitbranding is egter meer as net om oorwerk te voel, sê Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics.
“Dit is ʼn toestand van emosionele, fisieke en geestelike uitputting wat deur langdurige stres veroorsaak word. Dit kan voortspruit uit werkplekdruk of persoonlike stres soos ʼn ernstige siekte of gesinsprobleme. As dit nie beheer word nie, kan uitbranding lei tot menigte gesondheidsprobleme, insluitend ontwrigte slaappatrone, kognitiewe inkortings en ʼn hoër risiko vir depressie.”
Uitbranding gebeur nie oornag nie. Volgens Jennings is dit die gevolg van stres wat mettertyd opbou en dikwels geïgnoreer word totdat dit onhanteerbaar word. “Dit word dikwels vermom as produktiwiteit – mense druk hulself harder, slaan blaaskanse oor en offer slaap op, alles in die naam van prestasie, totdat hul gesondheid uiteindelik begin agteruitgaan.”
Diegene wat in hoëstresomgewings werk, soos gesondheidsorg en nooddienste, is veral kwesbaar vir uitbranding. Jennings noem egter dat jonger mense ook vatbaar is weens verskeie bykomende faktore.
“Baie mense in hul twintigs en dertigs het volwassenheid betree gedurende ʼn tyd van wêreldwye onsekerheid. Hulle probeer om baie balle in die lug te hou – van finansiële druk, ontwrigting rakende opvoeding of die begin van hul loopbane, tot sosiale isolasie wat vererger word deur die uitdaging om sosiale verbindings te vorm in vandag se hiperdigitale wêreld.”
Volgens ʼn onlangse verslag deur die Amerikaanse Sielkundige Vereniging is jonger volwassenes aansienlik meer geneig as ouer geslagte om oorweldig en geïsoleerd te voel, en ook om te erken dat hulle nie in staat is om effektief te funksioneer nie as gevolg van stres.
“Finansiële bekommernisse is ʼn groot bydraende faktor, met byna 70% van 18- tot 44-jariges wat sê dat hulle oorweldig voel deur geldbekommernisse. Terwyl tegnologie die werkplek gerevolusioneer het, het dit ook die grense tussen werk en persoonlike lewe vervaag. Die konstante konnektiwiteit wat deur slimfone en skootrekenaars moontlik gemaak word, beteken dat baie werknemers dit moeilik vind om te ontkoppel, wat lei tot langdurige blootstelling aan werkverwante stresfaktore.”
Volgens Jennings moet daar ʼn veelsydige benadering gevolg word om uitbranding te pak. “Stel duidelike werk-lewe-grense en probeer dit vermy om werkverwante e-posse of boodskappe buite aangewese werkure na te gaan.
“Ken spesifieke tye gedurende die dag toe om van digitale toestelle te ontkoppel. Neem deel aan aktiwiteite waar daar nie ʼn skerm is nie, soos lees of om in die buitelug te gaan stap.”
Dit is volgens Jennings ook belangrik om ondersteuning te kry. “Maak oop teenoor vriende, familie of professionele persone oor gevoelens van stres of uitbranding. Die deel van ervarings kan verligting en leiding bied. Handhaaf ʼn gebalanseerde dieet, oefen gereeld en kry voldoende slaap.”
Met Solidariteit aan jou kant het jy die beste moontlike diensvoorwaardes, voordele en werkplekbeskerming. Beskerm jouself ook in die werkplek met gratis arbeidshulp en regsadvies. Solidariteit beskerm jou teen diskriminasie en uitbuiting in die werkplek.