
Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Jongwerkende: Só werk ʼn werksoekplatform
Deur Leré Nel
Om vir jou eerste klerkskap, internskap of gemeenskapsdiensjaar aansoek te doen, kan oorweldigend voel. Gelukkig maak werksoekplatforms soos Solidariteit Werk die proses eenvoudiger – jy hoef net te weet hoe om dit reg te gebruik. Hier is alles wat jy moet weet:
Jou profiel is eintlik jou CV
“Ek het dan nou net my CV opgelaai … hoekom moet ek al my inligting weer invul?”
Ja, ons weet dit kan lastig wees. Maar die meeste werksoekplatforms is geoutomatiseer om hierdie inligting as jou “digitale CV” te gebruik. Werkgewers gebruik dit om vinnig te bepaal of jy by ʼn pos pas. Daarom moet jy elke vraag eerlik en volledig beantwoord, selfs al voel dit oorbodig.
Hoekom soek hulle al hierdie inligting?
- Persoonlike besonderhede (soos jou adres): Werkgewers wil weet of jy naby genoeg woon of bereid is om te trek.
- Opleiding en kwalifikasies: Dit wys dat jy die nodige teoretiese kennis het.
- Werkervaring of vrywillige werk: Alle ervaring tel as jy dit reg kan verwoord.
- Dokumente soos jou CV, matrieksertifikaat of aanbevelings: Dit bevestig jou betroubaarheid. Menslikehulpbronafdelings werk volgens streng beleide; sonder bewyse kan hulle jou aansoek nie ernstig oorweeg nie.
ʼn Volledige profiel gee jou geloofwaardigheid, selfs al ken die werkgewer jou nie. Onthou: ʼn Half ingevulde profiel beteken dikwels ʼn halwe kans om die werk te kry. Werkgewers soek immers nie iemand wat halwe werk doen nie!
Hoe om te weet of ʼn pos reg is vir jou
Wanneer jy deur poste blaai, let veral op die volgende:
- Dienstydperk: Is dit ʼn sesmaande-internskap of ʼn volle jaar gemeenskapsdiens?
- Kantoorgebonde of nie: Hoe buigsaam is die organisasie? Kan jy van die huis af werk of moet jy elke dag kantoor toe gaan?
- Ligging: Hoe ver is die kantoor van jou huis af en sal dit vir jou die moeite werd wees om daagliks soontoe toe te reis?
- Bykomende dokumente: Sommige werkgewers versoek ekstra dokumente soos jou rybewys, portefeulje of motiveringsbrief. Moenie dit ignoreer nie. As jy dit van die begin af saam met jou aansoek stuur, kan hulle sien dat jy aandag gee aan detail. As werkgewers na die tyd daarvoor moet vra, weet hulle dalk reeds dat jy waarskynlik nie die regte kandidaat is waarna hulle soek nie.
“Pro tip”: Kyk altyd of daar ʼn direkte e-posadres by die posadvertensie is. Dit gee jou die geleentheid om jou aansoek ook direk na die werkgewer te stuur, en jou naam vinniger bo-aan die lys te kry.
Hoe doen ʼn mens nou eintlik aansoek?
- Klik op die pos waarin jy belangstel.
- Lees die vereistes sorgvuldig deur en moenie blindelings aansoek doen nie.
- Laai jou dokumente op soos versoek: jou CV, akademiese resultate en aanbevelingsbriewe.
- Maak seker dat jou profiel volledig ingevul is.
- Dien jou aansoek in met ʼn kort motivering of dekbrief indien moontlik.
Onthou: Werkgewers ontvang dikwels honderde aansoeke vir een pos. ʼn Netjiese, volledige profiel en ʼn motivering wat wys jy het die posbeskrywing goed deurgelees, sal jou beslis ʼn voorsprong gee.
Jou loopbaan begin hier!
Of jy nou op soek is na jou eerste klerkskap, ʼn internskap, ʼn gemeenskapsdiensjaar of ʼn voltydse werk – dit begin alles met een eenvoudige stap: registreer jou profiel.
Skep en registreer vandag nog jou gratis profiel op Solidariteit Werk en sluit aan by Solidariteit Jongwerkende. Só kan jy die wêreld van werk met selfvertroue betree!