loading
Artikels
1 dag gelede
solidariteit-se-eerste-mhb-dag-met-die-fokus-op-emosionele-welstand

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit se eerste MHB-dag met die fokus op emosionele welstand

Deur Leré Nel

Solidariteit Werk het op 26 September 2025 vir die heel eerste keer ’n spesiale dag aangebied ter viering van mensehulpbronnebestuurders (MHB’s).  
Hierdie dag word internasionaal erken en Solidariteit wil graag die nodige erkenning bring aan die personeel wat al die wiele aan die draai moet hou – mensehulpbronnepraktisyns.

Bemagtiging vir die beroep

Volgens Mandy-Michelle Thackwray, bestuurder van Solidariteit Werk, is die doel van die dag om nie net vir MHB-praktisyns ’n geleentheid te skep waar hulle met mekaar kan netwerk nie, maar ook vir hulle in hul beroep te bemagtig. “Vandag was ons bevoorreg dat Francois Louw met ons kon gesels en hy het ’n baie interessante model oor emosionele welstand gedeel wat prakties deur MHB-praktisyns self en in hulle maatskappye toegepas kan word. Dit was ’n ongelooflike funksie. Ons het baie pret gehad en sien uit na meer sulke geleenthede in die toekoms,” sê Thackwray.

’n Praktiese model vir geestesgesondheid

Die hoofspreker, Francois Louw, hoofuitvoerende beampte van Vista Clinic in Centurion, het ’n eenvoudige maar kragtige model met bywoners gedeel wat hulle kan help om aan emosionele welstand te werk, en depressie en uitbranding te voorkom. Vista Clinic is ’n privaat psigiatriese spesialiteitshospitaal wat internasionale bande met instellings in Europa en die VSA het.

Louw het beklemtoon dat geestesgesondheid ’n universele uitdaging is:

“Mense kry swaar en bevind hulleself deesdae in moeilike emosionele omstandighede. Ek hoop dat ek vandag iets basies maar prakties vir mense kon gee wat hulle kan help om aan hulle emosionele welstand te werk. Oefeninge wat jy elke dag kan doen om jou beter te laat voel, energie te gee en te help baklei teen uitbranding. Ek hoop ek het vir mense gereedskap gegee om hulle uit daardie donker gat of spiraal van depressie uit te haal.”

Die waarde van dié sessie vir MHB-praktisyns

Bywoners het groot waarde uit die dag geput. Dawie van der Merwe, ʼn MHB-praktisyn by Soy Sere Coaching and Consulting sê die praktiese benadering wat Louw gedeel het, het vir hom nuwe perspektief gebring:

“Omdat ek betrokke is by die hantering van uitbranding in werknemers, was Francois se toespraak vir my baie waardevol. Wanneer ek tot dusver met uitgebrande mense gewerk het, het ek dikwels baie op die individu gefokus en min gepraat oor ‘help ander mense’ as ’n ‘tool’ om jouself te help. Vandag het Francois iets eenvoudig, maar ‘profound’ gedeel wat ek kan gebruik om mense te help in my werkplek. Dis nog ’n stukkie gereedskap wat ek bygekry het.”


Hierdie eerste MHB-dag was vir almal ʼn unieke ervaring. Vir Solidariteit Werk was dit  ’n belegging in die welstand van MHB-praktisyns en die omgewings waarin hulle werk. Met die sukses van hierdie byeenkoms sien Solidariteit Werk en sy netwerk van mensehulpbronnebestuurders uit na verdere funksies wat die beroep bemagtig.

Bly ingeskakel by Solidariteit Werk om nie die volgende funksie mis te loop nie!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel