Foto Krediet: Facebook | Unviversiteit Stellenbosch
Gekopieër
Almal behalwe wit aansoekers: Universiteit Stellenbosch se rasprogram-vennootskap met die regering ontbloot
Leré Nel
ʼn Advertensie vir twee internskapposte wat deur die Departement Agronomie van die Universiteit van Stellenbosch (US) gepubliseer is, het verlede week die debat oor rassediskriminasie weer opnuut laat opvlam. In die advertensie, wat wyd op sosiale media versprei is, word dit sommer skaamteloos blatant gestel dat “slegs swart, bruin, Indiër- en Chinese Suid-Afrikaners met ʼn Suid-Afrikaanse ID-dokument” mag aansoek doen. Wit studente word dus eksplisiet uitgesluit.
Hier is nie eers ʼn poging aangewend om die blatante diskriminasie te versag nie. Nie eers die gebruiklike “voorkeur sal aan voorheen benadeelde kandidate gegee word” nie.
Nie dat sagter bewoording dit juis beter sou maak nie. Sulke direkte uitsluiting bly immers teenstrydig met die Grondwet én die Wet op Gelyke Indiensneming.
Hoewel ʼn woordvoerder van die US aan Maroela Media gesê het dat die universiteit nie onbillike diskriminasie ondersteun nie, is dit uiters kommerwekkend dat personeel by die universiteit die advertensie met hierdie bewoording kon opstel én publiseer. Dit dui op ʼn toenemende kultuur waar blatante rasse-uitsluiting as “normaal” begin geldword.
Anton van der Bijl, hoof van Regsdienste by Solidariteit, verduidelik dat artikel 15 van die Wet op Gelyke Indiensneming bepaal dat organisasies sekere regstellendeaksiemaatreëls gebaseer op ras mag toepas. Maar dit mag nie dien as ʼn plafon of hekkie wat persone van nie-aangewese groepe heeltemal diskwalifiseer nie. “Wat in hierdie situasie gebeur het, is dat daar ʼn absolute hekkie gestel is wat onoorkombaar is vir enige wit persoon,” sê Van der Bijl.
Hy verduidelik dat regstellende aksie volgens die toepaslike regulasies genuanseerd moet plaasvind. “Die skikking wat Solidariteit met die regering gesluit het in terme van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO), asook Konvensie 111 en die Konvensie vir die Uitwissing van Rassediskriminasie, bepaal die proses duidelik. Verskeie faktore moet oorweeg word voordat ʼn organisasie geregverdig kan diskrimineer op grond van ras, en selfs dan in uitsonderlike gevalle.”
Volgens die US is die twee internskappe deel van ʼn regeringsprogram en die vereistes is deur ʼn “eksterne belegger” opgestel. Dit blyk volgens die woordvoerder egter dat die persoon of persone wat die advertensie opgestel het, nagelaat het om die voorkeure in lyn met die universiteitsbeleid en die Grondwet te formuleer.
Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP, het die advertensie ten sterkste veroordeel en dit as ʼn “uitstekende voorbeeld van die ideologie van transformatisme” beskryf, berig Maroela Media. Hy het ook daarop gewys dat die werklikheid is dat sommige wit studente arm grootword, terwyl daar swart-, bruin- of Indiërstudente is wat wél baie voorregte en geleenthede geniet. Maar dáárdie werklikheid word heeltemal buite rekening gelaat.
Hierdie verwronge denkwyse – dat ʼn leë stoel beter is as ʼn wit werknemer – raak al hoe meer algemeen. Dit is presies hierdie kwessie wat Solidariteit se nuwe dokumentêr, RACE to the Bottom, aanspreek. Hierdie diskriminerende advertensie is bloot nóg ʼn voorbeeld daarvan en van algehele rasmalheid wat sy kloue inslaan.
Dit is duidelik dat blatante, direkte diskriminasie so “normaal” geraak het dat dit nie eens meer nodig is om jou aan die Grondwet se voorskrifte te steur nie – selfs in formele werwingsprosesse. Dit kan nie toegelaat word nie!
Solidariteit sal voortgaan om teen rassediskriminasie te veg en ondersoek reeds watter stappe geneem kan word.