Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Skep begroting regtig hoop vir gesondheidsorg, of is beurtsorg ons voorland?
Deur Kyla-Ann du Toit
Die aankondiging in die begrotingsrede op 25 Februarie 2026 dat besteding aan gesondheid met 4,2% tot R334,3 miljard teen 2028/29 sal toeneem, bied broodnodige belofte vir ʼn stelsel wat reeds lank onder druk verkeer.
Die nasionale tesourie het sowat R21,3 miljard oor die mediumtermyn aan die gesondheidsektor toegeken, spesifiek vir die vergoeding en aanstelling van dokters en ander gesondheidswerkers, asook om tekorte in goedere en dienste aan te vul.
Volgens Peirru Marx, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Doktersnetwerk, is bykomende befondsing vir die gesondheidsektor ʼn stap in die regte rigting, maar befondsing alleen is nie die oplossing nie.
“Die bykomende fondse wat vir gesondheidsdienste beskikbaar gestel is, is ʼn positiewe ontwikkeling. Ons het al baie keer gesien dat gesondheidswerkers dienste wíl lewer, maar nie altyd oor die nodige toerusting en hulpbronne beskik om dit te doen nie,” sê Marx.
Benewens ʼn tekort aan toerusting en hulpbronne, is daar ook ʼn dringende behoefte om meer mediese personeel in die openbare sektor aan te stel. Suid-Afrika lei jaarliks gekwalifiseerde dokters op, maar baie van hulle sukkel om werk te kry.
“Hierdie dokters het al telkemale aangedui hulle is bereid om dienste vir die staat te lewer, maar die staat het eenvoudig nie die fondse om hulle aan te stel nie. Dit is dus ʼn stap in die regte rigting om meer befondsing beskikbaar te stel vir die aanstelling van dokters,” sê hy.
Volgens Marx kan dit ook help om die uitvloei van vaardighede te beperk.
“Dit sal verseker dat goed opgeleide praktisyns nie noodwendig in die buiteland sal gaan werk nie en ons land nie ʼn uitvoerder van talent word nie. Ons moet ons dokters in Suid-Afrika hou en ons eie gesondheidsorgbehoeftes aanspreek voordat ons daardie talent uitvoer.”
Hoewel die aankondiging verwelkom word, beklemtoon Marx dat die sukses daarvan afhang van hoe die fondse aangewend word.
“As die fondse nie reg aangewend word nie, gaan ons net sien wat ons tans sien: onvoldoende gesondheidsdienste, onvoldoende toerusting en te min mediese personeel om die druk op die openbare gesondheidsektor te verlig,” sê hy.
“Indien hierdie fondse nie doeltreffend geïmplementeer word nie, gaan die huidige stelsel verder verswak en kan ‘beurtsorg’ uiteindelik die gevolg wees.”
Volgens Marx skep die onlangse hofbevelwat die implementering van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) tydelik tot stilstand gebring het ʼn geleentheid om beskikbare befondsing meer doelgerig aan te wend.
“Die befondsing vir gesondheidsdienste is reeds beskikbaar – dit moet net reg geïmplementeer word. Die staat moet die politieke wil toon om die regte ding te doen: om die geld reg te belê, die pasiënt eerste te stel en nie in eie belang op te tree nie,” sê hy.
“Ons het al te veel wanadministrasie, bedrog en verkeerde aanstellings in die staat gesien. Dit is waar baie van die uitdagings in die gesondheidstelsel lê. Sodra die fondse reg bestuur word en die nodige dienste gelewer word waar dit benodig word, sal ons ʼn wesenlike verandering in die gesondheidstelsel sien.”
Die begroting bied dus hoop vir die gesondheidsektor, maar sonder die doeltreffende implementering van hierdie fondse, is dit maar net nóg leë staatsbeloftes.