Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Amazon: Gee ʼn droom ʼn kans, nie ras nie
Ope brief deur Dr. Dirk Hermann
Beste Jeff
Jy het Amazon in ʼn motorhuis begin. Jy het ʼn idee gehad, ʼn droom en die waagmoed om dit te verwesenlik.
Maar bowenal het jy die vryheid gehad om te probeer. Jou idee is getoets, nie jou velkleur nie. Dit is die verhaal van miljoene entrepreneurs.
Amazon het egter in Suid-Afrika gekies om mense nie volgens hul idees, drome en waagmoed te beoordeel nie, maar volgens hul ras.
Iewers in Suid-Afrika sit iemand vandag in ʼn motorhuis met ʼn droom. Maar Amazon sê: “Wys ons eers jou ras.”
Amazon se Equity Equivalent Investment Programme in Suid-Afrika is veronderstel om klein ondernemings te help ontwikkel. Julle eie woorde erken die uitdagings wat talle klein ondernemings ervaar om toegang tot finansiering, markte en netwerke te verkry.
Die program is bedoel om hulle hiermee te help – mits die ondernemings 100% swart besit is. Nie 51% nie. Nie 80% nie. Nie 99% nie. Honderd persent.
As ʼn swart en wit entrepreneur saam ʼn onderneming bou, bly Amazon se deure vir hulle gesluit.
As ʼn briljante jong entrepreneur of uitvinder selfs een vennoot van die “verkeerde” kleur het, is daardie onderneming nie vir die program kwalifiseerbaar nie. Julle program straf samewerking oor kleurgrense heen.
Suid-Afrika is een van die mees rasgereguleerde lande ter wêreld, maar geen Suid-Afrikaanse raswet vereis 100%-uitsluiting nie. Julle gaan verder as wat die staat selfs vereis.
Dit is nie meer bloot voldoening nie. Dit is ʼn kleurtoets wat Amazon self kies om toe te pas.
ʼn Amerikaanse onderneming wat een van die grootste simbole van die vrye mark geword het, bedryf in Suid-Afrika ʼn program waarin die ras van ʼn onderneming se eienaars bepaal wie mag deelneem en wie uitgesluit word.
Die Amerikaanse regering plaas druk op Suid-Afrika om nie handel deur rasgebaseerde beleid te beperk nie. Amazon beperk intussen geleenthede in Suid-Afrika suiwer op grond van ras.
Amerika sê: “Maak die mark oop.”
Amazon sê: “Wys eers jou ras.”
Amerika sê: “Verwyder rassehindernisse vir handel.”
Amazon plaas ʼn rassehindernis voor entrepreneurs.
Jeff, jy glo in persoonlike vryheid, vrye markte, entrepreneurskap, mededinging, individuele verdienste en die beperking van staatsgedrewe inmenging. Dit was die grondslag waarop jy en Amazon julle sukses gebou het.
Watter van hierdie beginsels is nog sigbaar in ʼn besluit wat ʼn staatsideologie gedienstig volg, mense se vryheid op grond van ras beperk, die mark volgens velkleur afbaken en ras bo verdienste stel?
In jou motorhuis het jy die vryheid gehad om te droom en te bou. In Suid-Afrika lyk dit egter asof mense se idees nie meer vir Amazon genoeg is nie. Eers moet hul velkleur die toets slaag.
Behoefte het nie ʼn velkleur nie. Armoede is nie swart nie. Talent is nie wit nie.
Mense het ʼn velkleur. Drome nie.
As Amazon werklik benadeelde mense wil help, help benadeelde mense. As julle armes wil help, help armes. As julle entrepreneurs sonder toegang tot kapitaal wil help, help hulle. As julle mense uit gemeenskappe met min geleenthede wil help, help hulle.
Maar moenie eers ʼn kleurtoets toepas nie.
ʼn Mooi naam maak ʼn beleid nie moreel nie. Die woord “equity” maak rasgebaseerde uitsluiting nie reg nie. Diversiteit wat een groep uitsluit, is nie diversiteit nie. Insluiting wat samewerking oor kleurgrense heen ontmoedig, is uitsluiting.
Eendag gaan niemand vra hoeveel punte Amazon op ʼn Suid-Afrikaanse bemagtigingstelkaart verdien het nie.
Hulle gaan vra: Toe Amazon die geleentheid gehad het om mense te help, waarom het hulle mense op grond van die regte kleur gekies eerder as die mense wat die hulp die nodigste gehad het?
Jy het Amazon in ʼn motorhuis begin.
Daar is vandag duisende Suid-Afrikaners met groot idees in motorhuise, agterkamers en klein werkruimtes.
Moenie hulle ras vra nie. Vra net wat hulle wil bou.
Groete
Dirk Hermann
Uitvoerende hoof: Solidariteit