loading
Artikels
2 jaar gelede
ambagnetwerk-maak-deure-oop-vir-jongmense-se-drome

Foto Krediet: Okay Deer

Ambagnetwerk maak deure oop vir jongmense se drome

Deur Heléne Leonard

Solidariteit se Ambagnetwerk fokus op die toekoms van jongmense in die ambagte en dit doen die netwerk deur mentorskappe en beursgeleenthede vir hulle aan te bied.

Solidariteit se studiebeurse het al ongelooflike sukses behaal en open ʼn loopbaanpad vir soveel jongmense. In 2022 het die Ambagnetwerk ʼn rekordgetal studiebeurse toegeken. Hierdie netwerk se vrygewigheid is ʼn sprekende voorbeeld daarvan dat dit net één mens neem om ʼn ander een te help. Lees meer hier oor Solidariteit se #ElkeenHelpEen-inisiatief.

Die #JouYster-studiebeurs is ʼn voorbeeld van so ʼn suksesvolle inisiatief. #JouYster is ʼn kompetisie waardeur Solidariteit en die Afrikaanse gemeenskap erkenning gee aan ambagslui vir hul harde werk, toewyding en passie vir hul beroep. Dié prys vereer gewone mense wat wondere in hul onderskeie tegniese beroepe verrig.

Die #JouYster-wenner kies met die hulp van die Ambagnetwerk se adviesraad die suksesvolle student aan wie die #JouYster-studiebeurs toegeken word. Die beurs bied geleentheid vir ʼn behoeftige student om aan Sol-Tech te kan studeer.

“Solidariteit se Ambagnetwerk wou graag ʼn studiebeurs aan ʼn jongmens toeken wat nie self vir hul eie studie kan betaal nie, maar wat vir hulself ʼn toekoms in die ambagte sien en wat werklik sy of haar kant wil bring,” aldus 2022 se #JouYster-wenner, Ferdi van Niekerk.

Die toekenning van studiebeurse het al talle suksesverhale opgelewer waarvan die suksesverhaal van Juan Jacobs, ʼn student by Sol-Tech, een is. Hierdie student het in 2022 aan Sol-Tech begin studeer. Hy vertel dat die beurs reeds ongelooflik baie deure vir hom oopgemaak het, die grootste natuurlik om verder te studeer.

“Vir ʼn kind wat glad nie daai geleentheid gehad het nie as gevolg van geldsake was dit bietjie moeilik, maar met die beurs weet ek my toekoms is verseker,” vertel Juan wat vanjaar in sy tweede jaar by Sol-Tech is.

Hy sê ook dat die Solidariteit-span hom altyd bystaan en dat hy te danke aan die Ambagnetwerk in die “beste kollege” is. “Ek weet ek gaan ʼn suksesvolle werk kry as ek hier uitstap,” sê Juan.

Sy raad aan ander beurshouers is om net hul kant te bring en om in hulself te glo om hul doelwitte te bereik. Hy sê ook dat ʼn mens nooit té trots moet wees om vir hulp te vra nie. “Laat staan jou trots en gaan na ʼn medemens vir hulp. As ons saamstaan is ons sterker,” sê hy.

Moenie jou kundigheid laat verlore gaan nie. Deel dit met ons jongmense wat daaraan bou om vry, veilig en voorspoedig te leef en te werk. Lees meer hier oor hoe jy kan help.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel