
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Ambagnetwerk stel vyf beurse beskikbaar aan Sol-Tech-studente
Deur Heléne Leonard
Outo-elektries as studierigting is een van Sol-Tech se nuutste kursusse en is tans in sy tweede fase van studente-innames. Solidariteit se Ambagnetwerk wil graag erkenning gee aan die grootskaalse uitbreiding en bevordering wat Sol-Tech in die ambagte verwesenlik.
Die Ambagnetwerk het dus besluit om beurse ter waarde van R38 000 elk aan vyf studente, wat aan al die bepalings en voorwaardes voldoen, toe te ken.
“Ons wil graag vir Sol-Tech dankie sê vir die ongelooflike werk wat hulle vermag. Dit is nie maklik om nuwe kursusse te implementeer nie en Sol-Tech is volstoom aan die gang,” sê Dirk Smit, die netwerkorganiseerder van Solidariteit se Ambagnetwerk.
“Ons wil graag hierdie beurse aan studente toeken vir wie dit ʼn wesenlike verskil in hul lewens gaan maak,” sê hy. Die student moet dus aan die volgende vereistes voldoen:
- Slegs inskrywings vir die April 2023-inname word oorweeg. Aansoeke sluit op 1 April 2023.
- Die beurs se waarde dek nie die totale studiegeld nie, derhalwe sal die balans nog verskuldig wees.
- Sol-Tech se standaard-aansoekproses sal die bepalende faktor wees vir wie die suksesvolle kandidate is.
Bepalings en voorwaardes:
- Kandidate moet aan die toelatingsvereistes vir outo-elektries as studierigting by Sol-Tech voldoen. Klik hier om die toelatingsvereistes te besigtig.
- Kandidate moet ʼn behoefte hê om in die ambagrigting te studeer.
- Kandidate moet in die Pretoria-omgewing woonagtig wees of oor die vermoë beskik om self huisvesting in die Pretoria-omgewing te kan bewerkstellig vir die duur van sy/haar studie.
- Kandidate kan aansoek doen vir studiehulp vir die balans van die studie se koste deur Solidariteit se normale proses vir studiehulp te volg.
Lees hier meer oor die eindelose moontlikhede wat Sol-Tech aan jong mense bied.