Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Ambagnetwerk skep só hoop vir jonges
Solidariteit is op soek na ʼn voornemende ambagsman of -vrou wat in 2025 met ambagopleiding deur die #JouYster-studiebeurslening op die Sol-Tech Plaas kan begin.
Dié studiebeurslening is ʼn geleentheid wat Solidariteit se Ambagnetwerk spesifiek aan ʼn talentvolle en geesdriftige jong mens wil skenk.
Gevolglik is die netwerk landswyd op soek na die geskikte kandidaat wat gretig is om ʼn passie vir die ambagwêreld uit te leef, maar wat dalk nie oor die nodige fondse beskik nie.
Hierdie studiebeurslening gee vir jong mense buitengewoon goeie geleenthede – kyk maar net na verlede jaar se #JouYster-studiebeurswenner wie se studie vanjaar by Sol-Tech begin het.
Delarey van der Merwe het sy kursus in pas-en-draai met entoesiasme en oorgawe aangepak en hy pluk beslis nou die vrugte daarvan.
Hy vertel die studiebeurslening was waar hierdie droomgeleentheid begin het. Hy erken sy studie sou nie moontlik gewees het sonder die Solidariteit Ambagnetwerk nie, en hy is dankbaar vir die kans wat hy gegun is.
“Soveel mense het hierdie studiereis by Sol-Tech vir my moontlik gemaak. Al die betrokke persone by Solidariteit, sowel as die oom by die werkswinkel wat oorspronklik by my ʼn voorliefde vir die ambagberoep gekweek het. Almal van hulle het my gehelp om hierdie droom te verwesenlik,” sê Delarey.
Delarey streef daarna om ná afloop van sy opleiding sy eie onderneming te begin. Só iets sou vir hom veel moeiliker gewees het sonder die opleiding wat hy by Sol-Tech ontvang.
“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om my vakmanskap te kan ontwikkel. Ek hoop om ander eendag te help soos wat ek ook gehelp is,” sê hy.
Delarey sê die aansoekproses vir sy studiebeurslening was eenvoudig – hoofsaaklik danksy die ondersteuning wat hy van die Solidariteit Ambagnetwerk gekry het.
Volgens Dirk Smit, netwerkorganiseerder van die Ambagnetwerk, is die uitsoekkandidaat vir die beurslening iemand wat ʼn voorliefde vir die ambagberoep bewys het en bereid is om hard te werk en te leer. Die soektog na die #JouYster-studiebeurslening se voorkeurkandidaat vir 2025 is tans aan die gang. As jy dink jy kan in aanmerking kom, of as jy ʼn geskikte kandidaat ken, stuur gerus ‘n e-pos aan ambag@solidariteit.co.za.