loading
Artikels
2 jaar gelede
ambagsmanne-vereer-tydens-jouyster-toekennings-2022

Foto Krediet: Solidariteit

Ambagsmanne vereer tydens #JouYster-toekennings 2022

Elke jaar word die #JouYster-toekenning se kompetisie strawwer en die netwerk tussen die finaliste sterkter. Vanjaar se top-5-finaliste is na ’n netwerkgeleentheid uitgenooi wat verlede week gehou is. Gedurende hierdie funksie is 2022 se wenner aangekondig.

Die ambagte is edel beroepe en speel ʼn kritieke rol in ons land se vooruitgang. Daarom het Solidariteit se ambagnetwerk die #JouYster-kompetisie, wat die eerste van sy soort is, van stapel gestuur. Op dié manier kan al die uitnemende ambagsmanne en -vroue jaarliks vir hulle toewyding en harde werk erkenning ontvang.

Uit vanjaar se 807 nominasies vir die #JouYster-toekenning moes die ambagnetwerk se adviesraad ʼn top-30 kies, waarna die finaliste hulle portefeuljes moes indien. Vanuit die portefeuljes is die top-5 gekies.

Vanjaar se top-5 het altesaam 120 jaar ervaring in die ambagte. So het die top-5 gelyk:

  • Hennie Smit
  • Pieter Strydom
  • Ferdi van Niekerk
  • Koos Kruger
  • Cobus van Aswegen

“Hierdie vyf manne het elkeen besonderse mylpale bereik. Hulle is voorlopers in hul ambag, innoveerders, visioenêre, entrepreneurs en mentors. Hulle bring die ambagberoep tot nuwe lewe. Hulle inspireer. Hulle motiveer. Hulle bemoedig. Hierdie vyf manne het my uitkyk op die lewe verseker verander,” sê Pierre de Villiers oor die top-5. Pierre dien tans op die ambagnetwerk se adviesraad.

Top 5: Pieter Strydom, Cobus van Aswegen, Ferdie van Niekerk, Hennie Smit en Koos Kruger.

Piere voeg by: “Dit was voorwaar ʼn groot voorreg om deel van hierdie eksklusiewe kompetisie te wees. Dit is vir my ʼn eer om deel van die adviesraad te wees en om hierdie rede sal ek my pligte met trots uitvoer en die uitnemendheid wat Solidariteit uitbeeld nastreef.”

Die ambagnetwerk se adviesraad en Leon van Wyk, meester ambagsman én die heel eerste #JouYster-wenner, het tydens dié netwerkgeleentheid strawwe onderhoude met die top-5 gevoer.

Die ambagnetwerk se adviesraad.

Ferdi van Niekerk is as 2022 se #JouYster-wenner aangewys. Hennie Smit is in die tweede plek aangewys en Pieter Strydom in die derde plek.

Ferdi is ʼn meulmaker en het ’n groot passie vir die ontwerp van toerusting. Hy doen alles van elektries, paswerk, autoCAD-tekeninge tot masjinerie.

Ferdi vanNiekerk en sy vrou, Elmarie.

In 2020 het Ferdi ʼn onderneming geregistreer genaamd, FVN Solutions, waar hy tegniese konsultasiewerk en spesialisbelyning vir ondernemings doen: “Ek werk al die laaste drie jaar by Eskom waar hulle my as ʼn konsultant gebruik om probleme op te los waar Eskom se eie ambagsmanne en ingenieurs nie die probleme opgelos kan kry nie.”

Ferdi is baie positief oor werksgeleenthede vir ambagsmanne in Suid-Afrika: “Uit my ervaring van ons land in die ambagsrigting waar mense minder en minder met hulle hande wil werk en meer in kantore wil sit, sal ʼn ambagsman nooit sonder werk sit nie.”

Ferdi motiveer jong mense om skouer aan die wiel te sit en baie selfstudie te doen om só hul kennis te verbreed: “Sorg dat jy altyd meer weet as die ambagsman of -vrou wat dieselfde kwalifikasie as jy het en jy sal nie ’n dag sonder werk in Suid-Afrika sit nie.”

Baie geluk aan Ferdi en die res van die top-5. Ons is opgewonde om saam met julle ʼn pad in die ambagnetwerk te stap.

Vir meer inligting oor Solidariteit se ambagnetwerk, klik hier.

Solidariteit se ambagnetwerk-span: Willie Venter, Cindy Rossouw en Stef Pretorius.

 

 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel