
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
ANC sê 111 000 vroue moet padgee uit werksmag
Volgens die ANC se nuwe sektorteikens sal meer as 111 000 vroue in belangrike sektore soos onderwys en gesondheid hul werk moet prysgee – alles onder die vaandel van sogenaamde ras- en geslagsgelykheid. Dié 2025-rasseregulasies ignoreer vaardighede, ervaring en werklike bemagtiging ten gunste van blote demografiese verplasing. Lees hier meer.
In ʼn land waar ekonomiese groei stagneer, werkloosheid rekordvlakke bereik en vaardighede ontbreek, het die regering nuwe sektorteikens ingestel wat, ironies genoeg, daartoe sal lei dat duisende vroue hul werk verloor – alles in die naam van “gelykheid”. Die 2025-rasseregulasies stel nie net onhaalbare aanstellingsdoelwitte nie, maar toon ʼn verbysterende minagting vir doelwitte wat juis vrouebemagtiging nagestreef het weens ongelykheid in die werksmag.
*Laai die verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) hier af.
111 000 vroue moet padgee
Volgens die regering se eie sektorale syfers sal meer as 111 000 vroue van alle rasse – meestal in onderwys en gesondheid – in hul poste vervang moet word om sogenaamde diensbillikheidsdoelwitte te bereik. In die gesondheid- en onderwyssektore alleen moet onderskeidelik meer as 76 000 en 65 000 vroue vervang word. Hierdie beroepe – tradisioneel deur vroue gekies uit roeping en toewyding – is nou vir hulle ontoeganklik, bloot omdat hul demografiese profiel nie by die ANC se waansinnige sektorteikens inpas nie.
Absurditeit in die praktyk
Wat maak hierdie beleid só absurd?
- • Dit fokus uitsluitlik op ras en geslag, sonder enige oorweging van vaardighede, ervaring of werksprestasie.
- • Selfs al sou elke enkele wit man in Suid-Afrika deur ʼn werklose swart persoon vervang word, sal swart werkloosheid volgens die verslag slegs met 0,3 persentasiepunte daal – van 36,98% tot 36,64%.
- • Dié vervanging is nie bloot hipoteties nie. Aangesien die ekonomie nie voldoende groei toon nie, is vervanging die enigste manier om aan die vereistes van die regulasies te voldoen – en dit word in die struktuur van die regulasies self geïmpliseer.
Wanneer gelykheid vroue benadeel
Ironies genoeg is dié einste regulasies wat veronderstel is om vroue te bemagtig dieselfde regulasies wat nou duisende vroue uit die ekonomie wil skop. Vroue word nie net volgens hul geslag geklassifiseer nie, maar nou ook as ʼn “oorverteenwoordigde groep” in sekere sektore – veral in gesondheid, onderwys en finansies – en moet dus plek maak vir ander. Die gevolg: vroue wat hul plek in die arbeidsmark deur harde werk verdien het, word die slagoffers van ʼn beleid wat gelykheid nastreef.
Beleid teenoor werklikheid
Die verslag toon dat in baie sektore groei van meer as 100% vereis word om die teikens natuurlik te bereik. Dit is onrealisties en selfs ekonomies lagwekkend. Dus bly vervanging die enigste “haalbare” opsie – ʼn pad wat na massa werksverliese en, daarmee saam, ʼn verlies aan kundigheid lei.
Wat is die alternatief?
In plaas daarvan om werkgewers met boetes en regsgevolge te dreig as hulle nie hul personeel volgens ʼn voorafbepaalde demografiese rooster kies nie, behoort beleid te fokus op:
- • ware bemagtiging deur opleiding
- • bevordering op grond van meriete
- • erkenning van sektorale realiteite en beroepskeuses
- • ekonomiese groei as ʼn voorvereiste vir werkskepping.
In die naam van gelykheid verander bemagtiging in vervanging – en vroue van alle rasse gaan die gevolge dra. Hierdie teikens is nie ontwerp vir inklusiwiteit nie – dit is ontwerp om ʼn demografiese kaart van die verlede op ʼn dinamiese arbeidsmark van die toekoms af te dwing. Daar word nie gevra of mense bevoeg is nie. Daar word nie na prestasie gekyk nie. Daar word bloot getel: ras, geslag – en niks meer nie.