Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
ANC spartel oor SEB: ‘Mense sien nou die waarheid raak’
Robin-Lee Maré
Fikile Mbalula, ANC-sekretaris-generaal, se onlangse bewering dat kritiek op swart ekonomiese bemagtiging (SEB) bloot ʼn mediaveldtog is om die beleid te diskrediteer, strook nie met die werklikheid nie.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), kom die groeiende teenkanting teen SEB nie vanuit nuuskantore nie, maar vanaf Suid-Afrikaners wat die gevolge van die beleid daagliks ervaar.
“Mbalula se aantyging dat die media besig is met ʼn veldtog om SEB te diskrediteer, is belaglik. Dit is nie die media nie; dit is gewone Suid-Afrikaners wat sien SEB bied geen werklike voordele vir hulle nie,” sê Du Buisson.
Hy sê Mbalula se kritiek op verslae wat die ANC se beleid bevraagteken, word nie deur die feite gesteun nie.
“Die SNI se navorsing toon duidelik die Suid-Afrikaanse ekonomie presteer swak en sukkel om volhoubare groei te handhaaf.
“Ander studies toon eweneens SEB bied min of geen voordeel vir die meerderheid Suid-Afrikaners. Waar die beleid wel ʼn meetbare impak het, is dit dikwels negatief,” verduidelik Du Buisson.
Volgens Du Buisson is Mbalula se uitsprake goedkoop maar skadelike politiek en bestaan daar geen geloofwaardige navorsing wat aantoon SEB bereik sy verklaarde doelwitte nie.
“Wat wel maklik geverifieer kan word, is die werklikheid waarin Suid-Afrika hom bevind. Ongelykheid bly een van die land se grootste uitdagings, maar SEB verlig nie dié probleem nie; dit vererger dit.
“Welvaart wat in ʼn gesonde, groeiende ekonomie natuurlik oor ʼn groter deel van die bevolking versprei sou word, word deur SEB gekonsentreer in die hande van ʼn klein groepie reeds welgestelde swart mense.”
Hy meen Suid-Afrika benodig beleide wat ekonomiese groei eerder as verdere regeringsingryping aanmoedig.
“Die land het beleide nodig wat investering, ondernemings en werkskepping bevorder. In ʼn groeiende ekonomie word die voordele van groei veel wyer versprei, sonder voortdurende regeringsingryping. Dit is uiteindelik hoe meer Suid-Afrikaners ekonomiese geleenthede kan kry en hoe armoede werklik verminder kan word,” sluit Du Buisson af.