loading
avatar
Artikels
5 uur gelede
werkomstandighede-by-unisa-wat-is-die-waarheid

Foto Krediet: Verskaf

Werkomstandighede by Unisa: Wat is die waarheid?

Deur Leré Nel

Solidariteit neem met kommer kennis van onlangse berigte en ernstige bewerings oor swak werkomstandighede by die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa). Indien hierdie bewerings waar is, onderneem Solidariteit om daadwerklik op te tree om sy lede se belange, veiligheid en welstand by dié instelling te beskerm.

Volgens die berigte verkeer akademiese en ander personeel by Unisa onder toenemende druk weens buitensporige werkladings, personeeltekorte, hoë stresvlakke en gebrekkige ondersteuning. Die situasie het glo vererger nadat die universiteit besluit het om nie die kontrakte van duisende nasieners en aanlyn tutors te hernu nie.

Daar word beweer dat permanente akademiese personeel sedertdien ook die werk moet verrig wat voorheen deur nasieners, aanlyn tutors en onderwyserassistente behartig is. Een ontleding waarna in sekere berigte verwys word, dui aan dat meer as 557 000 werkopdragte teen 7 Mei 2026 nog nie nagesien was nie. Sommige akademici moes volgens berigte tussen 12 500 en 20 000 werkopdragte per semester nasien.

Hierdie omstandighede hou, indien die bewerings waar is, nie net moontlike negatiewe gevolge vir werknemers se fisieke en emosionele welstand in nie, maar kan ook studente benadeel. Volgens berigte moet studente maande lank op uitslae wag, terwyl oorhaastige nasienwerk en beperkte terugvoer kommer oor akademiese standaarde laat ontstaan.

Solidariteit wil egter nie bloot op mediaberigte staatmaak om sy rol en optrede in dié saak te dikteer nie. Die vakbond het daarom ʼn vertroulike opname aan sy lede by Unisa gestuur om eerstehandse inligting oor hul werkomstandighede, werklading en welstand in te win.

Die doel is om vas te stel of die beweerde probleme wel met lede se ervaring ooreenstem, hoe ernstig die situasie is en watter optrede nodig sal wees. Alle terugvoer sal vertroulik en gesamentlik verwerk word. Dit sal uitsluitlik gebruik word om lede se werkomstandighede te ontleed en gepaste stappe te oorweeg.

Indien die terugvoer bevestig dat werknemers aan buitensporige werkdruk, uitbranding of ander onaanvaarbare omstandighede blootgestel word, sal Solidariteit gepaste stappe neem en met Unisa in gesprek tree om praktiese en volhoubare oplossings te eis.

Werk jy by Unisa en word jy deur hierdie probleme geraak? Voltooi die opname hier.

Deel ook hierdie artikel met kollegas of ander Unisa-werknemers wat moontlik deur hierdie probleme geraak word. Hoe meer werknemers hul ervarings deel, hoe sterker kan Solidariteit namens hulle optree.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel