Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Polisievrou van Pretoria wen saam met Solidariteit nóg ʼn saak oor SAPD-bevordering
Robin-Lee Maré
Ná ongeveer 34 jaar diens in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het luitenant-kolonel Judith Britz gehoop haar aansoek om bevordering sou haar minstens die geleentheid bied om haar geskiktheid tydens ʼn werksonderhoud te bewys.
Daardie geleentheid is haar egter nooit gegun nie en sy het genoeg rede gehad om vrae daaroor te vra.
Britz het vir die pos Adjunkdirekteur: Verliesbestuur aansoek gedoen. Hoewel sy aan al die minimum vereistes voldoen het en oor 32 jaar se ervaring in die SAPD se verliesbestuursomgewing beskik as toesighoudende voorsieningskettingpraktisyn, is sy eenvoudig nie vir ’n onderhoud op die kortlys geplaas nie.
Volgens Theunis van Staden, koördineerder van Solidariteit se openbare sektor, het Solidariteit die saak namens haar na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geneem, waar die kommissaris bevind het dat die SAPD skuldig is aan onbillike arbeidspraktyk deur haar sonder voldoende regverdiging van die keuringsproses uit te sluit.
“Die SAPD het aangevoer Britz beskik nie oor die sogenaamde “relevante opleidingskursusse” nie.
Solidariteit het egter tydens die arbitrasie bewys die polisiediens kon nie verduidelik watter kursusse vereis is, hoe dié vereistes bepaal is of waarom Britz se ervaring, kwalifikasies en kundigheid nie voldoende was om haar minstens vir ʼn onderhoud te oorweeg nie,” sê hy.
ʼn Sleuteloomblik in die verrigtinge was Solidariteit se versoek om die dokumentasie waarop die kortlysproses gegrond is, beskikbaar te stel. Die SAPD kon egter nie die kortlysnotules, die toegepaste keuringskriteria of die dokumente waarop die besluit berus het, aan die kommissaris voorlê nie.
Hierdie versuim het swaar geweeg in die uiteindelike uitspraak.
Van Staden verduidelik dat die kommissaris bevind het dat die SAPD nie objektief kon motiveer waarom Britz by die keuringsproses uitgesluit is nie.
“Volgens die uitspraak is sy onbillik die geleentheid ontsê om vir die pos mee te ding, wat op onbillike arbeidspraktyk neerkom,” sê hy.
Volgens Van Staden bevestig hierdie uitspraak ʼn belangrike beginsel dat alhoewel werknemers nie outomaties ʼn reg op bevordering het nie, het hulle wel ʼn reg op ʼn billike, deursigtige en objektiewe geleentheid om vir ʼn pos mee te ding.
Die kommissaris het die SAPD gelas om haar met vier maande se salaris, altesaam R225 363, te vergoed vir die benadeling wat sy gely het.
Van Staden sê hierdie beslissing stuur ʼn duidelike boodskap aan werkgewers, veral staatsinstellings, oor die belangrikheid van deursigtige en regverdigbare aanstellings- en bevorderingsprosesse.
“Waar ʼn werkgewer nie sy eie besluit objektief kan verdedig nie, of nie kan wys waarop daardie besluit gegrond is nie, sal daar gevolge wees. Solidariteit sal aanhou om ons lede se regte te beskerm en toe te sien dat elke lid ʼn regverdige kans kry om vir bevordering mee te ding,” sluit hy af.