loading
Artikels
1 jaar gelede
apteek-van-die-jaar-so-lyk-die-finaliste

Foto Krediet: Solidariteit

Apteek van die jaar. So lyk die finaliste

Deur Maryna Eksteen 

ʼn Gemeenskapsapteek is voorwaar ʼn steunpilaar! Dit is die plek waar klante op hulle name geken word, met ope arms verwelkom word en waar hulle enige tyd om hulp en raad kan aanklop. Hierdie apteke is bekend vir hul vriendelike en behulpsame personeel wat uit hulle pad sal gaan om jou met ʼn veluitslag of selfs griep by te staan.

Die gemeenskap het hul gesinsapteke genomineer vir Solidariteit se #ApteekVanDieJaar-toekenning om erkenning te gee aan hul gemeenskapsapteke. Hier is die top vyf nominasies vir Apteek van die Jaar.

Ackermans Apteek

Ackermans Apteek is in 1948 deur ene mnr. Louis Ackerman gestig. Dit het as ’n klein apteek begin, en in 1974 het mnr. Ackerman en sy broer ʼn oop erf gekoop en ʼn groot, nuwe apteek tesame met Ackermans Meubelwinkel langsaan gebou.

Jan van Wyk het in 1972 as student by mnr. Ackerman begin werk en in 1984 die apteek by mnr. Ackerman oorgekoop nadat laasgenoemde op pensioen gegaan het. Johan van Wyk het einde 1996, ná voltooiing van sy studie in Aptekerswese, saam met sy pa, Jan, by die apteek begin werk.

In 2001 het die Van Wyks die gebou waarin die apteek was, by die Ackerman-familie oorgekoop nadat die meubelwinkel toegemaak het. Dit het die Van Wyks in staat gestel om die apteek se grootte te verdubbel, en daarna het die apteek jaarliks bly groei. Volgens Johan het hulle gesien dat die apteek te klein raak, en na baie gebede en bevestiging van die Here het hulle besluit om die apteek na die gebou oorkant die straat te skuif. Dit het hulle in staat gestel om die vloeroppervlakte weer te verdubbel en ʼn hipermoderne nuwe apteek te bou.

Die ou gebou is in ʼn bekostigbare private mediese sentrum omskep – iets waaraan die gemeenskap reeds baie jare lank ’n groot behoefte gehad het. Die mediese sentrum het in Januarie 2023 sy deure geopen en het tans agt algemene praktisyns, ʼn kinderarts, oogkundige, tandarts, babakliniek, Ampath- en Lancet-laboratoriums, X-strale, fisioterapeut, dieetkundige en oudioloog. Volgens Johan het dit slegs met die Here se genade gebeur.

Ackermans Apteek bied ’n weeklikse sopkombuis aan wat tussen 200 en 300 mense per week voed. “Ons borg die sopkombuis se sop vir elke Woensdag en ons borg ook die brood vir Vrydae. Ons is reeds amper sewe jaar lank by hierdie projek betrokke,” sê Johan. Die apteek borg ook stolpverpakkingsdienste (“blister packaging”) vir Little Eden-tehuis se ongeveer 250 inwoners wat in Edenvale en ook in Bapsfontein woon. Al die inwoners is verstandelik gestremd en die meeste se medikasie word deur die staat verskaf.

“Ackermans is werklik ’n unieke apteek soos geen ander apteek in die land nie. Ons neem werklik die behoeftes van ons mense, ons dorp en ons gemeenskap in ag,” sluit Johan af.

Hillcrest Apteek

Hillcrest Apteek is al meer as 50 jaar in Selcourt, Springs. Die apteek is in die jaar 2000 gestig en word sedertdien deur Iva Carboni bestuur, tesame met Alexia Radulovic wat in 2010 by die apteek aangesluit het. Vandag het Hillcrest Apteek meer as 30 personeellede, en die gemeenskap word reeds meer as 20 jaar lank gedien. Iva se droom was om ʼn ouditeur te word, maar haar ouers het ander planne vir haar lewe gehad. Iva het haar nie laat terughou nie en besluit om Aptekerswese te studeer. Iva is al vir 23 jaar die dryfkrag agter die apteek se sukses, tesame met die ongelooflike personeel en atmosfeer van uitnemendheid.  

Hillcrest Apteek is 363 dae van die jaar oop, met die uitsondering van Kersdag en Nuwejaarsdag. Die apteek is van 08:00 tot 20:00 oop en kan kliënte in verskeie tale bedien. Die apteek se werknemers se huistale wissel van Afrikaans, Engels, isiXhosa, isiZulu, Venda, Sepedi, Sotho en Tswana, en Iva en Alexia praat Italiaans vlot.

Hillcrest lewer ʼn persoonlike en doeltreffende diens. Die apteek streef daarna om kliënte altyd op hul voornaam te noem. Die apteek is by die meeste mediese fondse en gesondheidversekerings gekontrakteer, en geen kliënt word weggewys nie, ongeag of hulle lid van ʼn mediese fonds is of nie. Die apteek se kliniek bied ook dienste soos kinderimmunisering en gesinsbeplanning met behulp van staatsgesondheidsorg.

Riebeekvallei Apteek

Al die pad uit die Wes-Kaap is Riebeekvallei Apteek gereed om die gemeenskap te bedien. Die personeel by die apteek staan slaggereed om kliënte te help en stap altyd die ekstra myl om seker te maak dat kliënte topgehalte diens ontvang.

Pharmavita Apteek

Die Pharmavita Apteek is ʼn toegewyde, onafhanklike gemeenskapsapteek. Die apteek fokus op die ontwerp en implementering van besigheidsprodukte, -dienste en -strategieë spesifiek om apteke in onafhanklike besit te help om te groei en suksesvol te wees in ‘n mededingende mark.

Die gemeenskap beskryf hierdie apteek as “die beste apteek in Middelburg” en “die vriendelikste personeel en die beste diens”. Dit is sommer dan vanuit die staanspoor duidelik dat die apteek omsien na die gemeenskap se behoeftes.

Bronberrik Apteek

Bronberrik Apteek het meer as dertig jaar gelede sy deure in Bronberrik, Centurion, geopen.

In ongeveer 1995 het die apteek na Wierdapark geskuif, en Herman Lubbe staan sedert 2002 aan die stuur van sake by die apteek. Met twee groot mediese praktyke in die onmiddellike omgewing en volgehoue uitstekende diens het die onderneming soveel gegroei dat Herman besluit het om dit heelwat groter te maak – eers in 2012 en later weer in 2020.

Die apteek spog met vier aptekers, twee aptekersassistente en een intern. Daar is ook ’n voltydse suster wat werksaam is in die kliniek. Die apteek het ook vier permanente manne wat die aflewerings hanteer en areas bedien wat soms aan die anderkant van Pretoria is, en selfs so ver as Hartbeespoort. Volgens die apteek se oudste apteker Pieter Naude, is Bronberrik Apteek soveel anders as enige apteek wat hy in meer as 40 jaar gesien en ervaar het. Die gees tussen die personeellede onderling, asook tussen hulle en die publiek is uniek, aangenaam en opbouend.

“Pasiënte voel alreeds nie goed wanneer hulle apteek toe moet gaan nie, en ’n glimlag, ’n grappie, ’n kompliment, ’n geselsie en egte deernis laat hulle alreeds beter voel nog voor die medisyne oorhandig word,” sê Tania Lubbe. Volgens Tania is die apteek se beleid soos volg: “Ons sorteer dit nou vir jou uit.” Dit skep ’n klimaat van uitstekende diens. ’n Verdere aspek wat deur lojale kliënte waardeer word, is die wye reeks produkte en groot volume voorraad beskikbaar. “As hulle iets soek, hét ons dit, of ons kry dit binne ’n dag. Kliëntetevredenheid is waarop ons elke dag bou.”

“Ons is baie opgewonde oor die Solidariteit-nominasie . Om benoem te word as een van die vyf top-apteke in die land is voorwaar ’n eer en ’n voorreg. Ons voel nederig en geseënd.

Die gemeenskap van Centurion en selfs wyer geniet ’n volledige en professionele diens by ons apteek.”

Behalwe vir die algemene apteekdienste van reseptering en kundige raad oor die gebruik van medisyne, leefstyl en algemene gesondheid, bied die apteek ook volledige kliniekdienste met ’n professionele suster wat vanuit die intensiewesorg- en kardiologie-omgewing kom. Bloedtoetse, immunisering, noodbehandeling en ʼn algemene diagnostiese diens word ook verskaf. ’n Diens waarop die apteek trots is, is die stolpverpakkings (“blister packing”) wat hulle vir pasiënte doen. Die apteek bedien verskeie ouetehuise en hoësorg-eenhede. Dit maak dit vir die senior burgers en hulle verpleegpersoneel soveel makliker om korrekte dosisse op die korrekte tye te neem.

Bronberrik Apteek bied voorwaar ’n allesomvattende diens, gelewer met toewyding en liefdevolle ontferming.

Indien jy deel van ‘n gemeenskap wil wees waar jou stem saak maak, klik hier of stuur ‘n e-pos na medies@solidariteit.co.za vir verdere navrae.

Saam sal ons vry, veilig en voorspoedig wees.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel