
Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
Solidariteit versigtig optimisties ná tydelike Amsa-redding; maar breër denke dringend nodig
Hierdie besluit om sluitings van April tot die einde van Augustus 2025 uit te stel, is moontlik gemaak deur die regering se lening van nagenoeg R1,7 miljard. Gevolglik word die afleggingsproses, wat 3 500 poste regstreeks sou raak, ook gehalt. Lees meer hieronder.
Solidariteit verwelkom die aankondiging dat ArcelorMittal Suid-Afrika (Amsa) besluit het om die beplande sluiting van sy langstaalaanlegte in onder meer Newcastle en Vereeniging uit te stel. Die vakbond sê dit kan as ʼn positiewe stap beskou word wat die onmiddellike bedreiging van werksverliese vir duisende werknemers vir eers afweer.
Hierdie besluit om sluitings van April tot die einde van Augustus 2025 uit te stel, is moontlik gemaak deur die regering se lening van nagenoeg R1,7 miljard. Gevolglik word die afleggingsproses, wat 3 500 poste regstreeks sou raak, ook gehalt.
Volgens Willie Venter, adjunkhoofsekretaris vir die metaal- en ingenieurswesebedryf by Solidariteit, bring hierdie verwikkeling welkome verligting vir werknemers en hul gesinne, maar skiet dit nog ver te kort om ʼn werklike oplossing te bied.
“Natuurlik is ons baie dankbaar dat so ʼn ingryping plaasgevind het, selfs al het dit geweldige druk van veral vakbonde geverg om hierdie stappe ʼn werklikheid te maak. Ons is baie dankbaar dat ons lede en die werknemers wat deur die beplande sluiting en afleggings geraak word nou tydelike werksekuriteit gaan hê,” sê Venter.
Solidariteit beklemtoon egter dat hierdie uitstel slegs vir ses maande geldig is en dat hierdie tyd benut moet word om beter antwoorde te kry.
Venter sê die breër onderliggende uitdagings wat die staalbedryf teister moet nou met veel groter dringendheid as in die verlede getakel word.
“In die tyd wat voorlê, sal die regering en Amsa ernstige gesprekke moet voer om te kyk of hulle nie van die groter probleme soos dié wat verband hou met elektrisiteitvoorsiening en vervoertariewe kan pak nie,” voeg Venter by.
“Ons doen ʼn beroep op albei partye is om die tydperk te benut om volhoubare oplossings te vind vir die strukturele probleme wat die bedryf teister. Om net nóg geld van die belastingbetaler te gebruik is nié die antwoord nie,” verduidelik Venter.
Hindernisse wat die bedryf lamlê, sluit in kwessies soos hoë elektrisiteitskoste, spoorvragtariewe, die “storting” van goedkoop staal en die verbod of beperkings op die uitvoer van skrootmetaal.
Venter sê dit is kwessies wat nie net Amsa nie, maar die hele staal- en ingenieursbedryf raak en in die soeke na antwoorde sal die groter bedryf dringend by gesprekke betrek moet word. Daar sal ʼn goue middeweg tussen primêre metaalprodusente, kleiner produsente en afstroomvervaardigers gevind moet word.
Solidariteit bly daartoe verbind om die belange van sy lede te beskerm en sal voortgaan om aktief betrokke te wees by die proses om volhoubare oplossings vir die uitdagings in die staalbedryf te vind.