
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit sit R7 miljoen opsy om raswette te stop
Solidariteit gaan ’n regsfonds van R7 miljoen stig in sy grootste poging nóg om raswette te stop. Dit volg nadat die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologie Vrydag regulasies in die Staatskoerant gepubliseer het wat verligting bied aan buitelandse maatskappye, soos Starlink, met betrekking tot swart eienaarskap. Lees meer hier.
Volgens Solidariteit het die onlangse Withuis-gesprekke dit duidelik gemaak dat die uitfasering van raswette noodsaaklik is vir ’n handelsooreenkoms met die VSA, sowel as vir ’n gunstige beleggingsklimaat in die algemeen. Solidariteit beplan om sy veldtog verder te verskerp in die aanloop tot die G20-beraad.
“Ons inligting dui daarop dat daar ernstige gesprekke agter die skerms in Washington oor raswette plaasgevind het, en dat dit ’n groot struikelblok is vir ’n nuwe handelsbedeling tussen die VSA en Suid-Afrika,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Hoewel Solidariteit die verligting van rasregulasies vir buitelandse maatskappye verwelkom, gaan dit ook veg vir die algehele uitfasering van raswette in Suid-Afrika.
Verskeie hofsake teen die nuwe rasregulasies, ’n minagtingsaak teen die president, ’n regsgeding teen die nuwe R100 miljard-rasfonds, asook aksies teen verskeie werkgewers, vorm deel van Solidariteit se veldtog. Daar word ook verskeie internasionale klagte en veldtogte beplan. Verdere gesprekke met die VSA-regering en ander G20-lande sal plaasvind.
Volgens Hermann is die rasbuffel noodlottig gekwes, meer aggressief as tevore, maar uiteindelik nie lewensvatbaar nie. “Die tyd is ryp om die stryd teen Suid-Afrika se raswette te verskerp. Raswette moet stop – ter wille van jou, ons kinders, ons gemeenskap en ons land.” Solidariteit doen ’n beroep op almal in Suid-Afrika om op groot skaal saam te staan om die rasbuffel finaal tot ’n val te bring.
Die veldtog in ’n neutedop:
• ’n Regsfonds van R7 miljoen word gestig vir omvattende litigasie plaaslik en internasionale aksies.
• ’n Minagtingsaansoek teen president Ramaphosa vir die verbreking van die hofbevel-ooreenkoms met Solidariteit.
• ’n Klag by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) oor die regering se verbreking van die 2023-ooreenkoms wat onder toesig van die IAO bereik is.
• Die nuwe rasregulasies sal in die hof uitgedaag word.
• Die R100 miljard-rasfonds sal in die hof aangeveg word.
• ’n Klag by die spesiale rapporteur van die VN se Menseregtekommissie, met ’n versoek vir mediasie met die Suid-Afrikaanse regering oor die uitfasering van raswette.
• ’n Besoek aan die Europese Parlement – met ’n spesifieke fokus op G20-lande – met ’n versoek vir internasionale druk op Suid-Afrika om raswette uit te faseer, as voorwaarde vir buitelandse beleggings.
• ’n Verslag oor die verskerping van raswette sal aan die Trump-administrasie oorhandig word.
• ’n Verslag oor die werklike koste van raswette sal bekend gemaak word.